Bedrog en korrupsie is só diep gewortel in Suid-Afrika en sy staatsdepartemente en die verval van infrastruktuur só endemies dat dit enige droom oor groter ontwikkelings en megastede onmoontlik maak.
Een voorbeeld hiervan is die erkenning van die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, dat daar vermoedelik grootskaalse bedrog en korrupsie in haar departement is weens hoofsaaklik samespanning tussen amptenare en diensverskaffers.
Ondersoeke hierna moet gou en deeglik gedoen word aangesien dit nie aanvaarbaar is dat belastingbetalers se swaar verdiende geld steeds in ‘n bodemlose punt van oneerlikheid verdwyn nie. Dit moet uitgeroei word en korrupte amptenare moet gestraf word.
Aan die ander kant mors die departement self oop en bloot met belastinggeld. Daar word beplan om in hierdie finansiële jaar ‘n bedrag van sowat R193 miljoen te bestee aan die huur van geboue vir tien verskillende departemente.
Die VF Plus meen dit sou veel wyser wees om eerder eiendom aan te koop aangesien dit ‘n bate en belegging vir die toekoms sal wees. Sulke ooreenkomste maak ook die deur oop vir korrupte amptenare om te misbruik.
Die minister se aankondiging dat sy ‘n deeglike inspeksie wil doen van die bateregister van alle staatsgeboue word verwelkom, maar dit is terselfdertyd kommerwekkend aangesien dit daarop dui dat dit nie gereeld gedoen is nie en nie volledig en op datum is nie.
Die opgradering van klinieke, hospitale, polisiekantore, skole en ander staatsbeheerde geboue is van die allergrootste belang en moet so gou doenlik gedoen word om tragedies te vermy soos gebeur het by die Hoërskool Driehoek.
Drome van megastede is onrealisties aangesien die huidige infrastruktuur nie behoorlik in stand gehou word nie. Die VF Plus kan nie sien hoe huidige probleme soos by Emfuleni, Mogale City en Bloemfontein opgelos gaan word deur die bou van groter stede nie. Dit is ‘n resep vir rampspoed.
Die ontwikkeling by Brickvale aan die Wesrand laat ook meer vrae as antwoorde. Mogale City-munisipaliteit het die grond aangekoop vir ‘n bedrag van R63 miljoen terwyl die waarde daarvan slegs R2,9 miljoen is. Die megastad-ontwikkeling van Daggafontein aan die Oos-Rand word ook gekenmerk deur probleme en die publiek se besware val op dowe ore
Dit is goed om planne te maak en te droom, maar solank as wat die ANC in beheer is, sal niks realiseer nie. Bestaande infrastruktuur, veral paaie, moet eers behoorlik opgeknap en bestuur word voordat daar oor megastede gedroom word.
Kontaknommer: 060 556 4347