President Cyril Ramaphosa is verkeerd indien hy dink grondonteiening sonder vergoeding sal voedselsekuriteit nie beïnvloed nie. Dis ‘n droom. Die realiteit is dat dit elke Suid-Afrikaner se reg tot die besit van eiendom bedreig en alle wit Suid-Afrikaners, in die besonder boere, reduseer tot gronddiewe.
Na afloop van die parlement se aanvaarding van die mosie oor onteiening, het die landbousektor tydens die tweede kwartaal van 2018 met 29,2% gekrimp. Die ANC en EFF se populisme oor grond vernietig Suid-Afrika se landbou en voedselsekerheid.
Die voortbestaan van landbou in Suid-Afrika word verder bedreig deur ‘n onbetroubare klimaat; stygende insetkoste; gebrekkige staatshulp in die vorm van navorsing, ontoereikende rampverligting en tariefbeskerming asook teikengerigte plaasaanvalle met oormatige wreedheid.
Die VF Plus ondersteun groter staatsbesteding aan landbounavorsing om te verseker dat instansies soos die Landbou-Navorsingsraad Suid-Afrika op die voorpunt van navorsing met betrekking tot skaars hulpbronne kan plaas.
Die aanstelling van nuwe finansiële direkteure en uitvoerende hoofde van die onderskeie landbou-entiteite word verwelkom. Die persone lyk bekwaam en bereid om hard te werk. Die beste planne en begrotings van die departement beteken egter min indien provinsies nie hul deel bydra nie en die geld in kaders se sakke beland.
Grondeise in sy geheel moet so spoedig moontlik afgehandel word aangesien dit groot onsekerheid tot gevolg het wat die ontwikkeling van die landbousektor demp en voedselsekuriteit verder benadeel. Grondhervormingsprojekte het ‘n teelaarde vir korrupsie geword.
Sowat 91% van die begunstigdes van grondhervormingsprojekte het nog nooit geboer nie; was nog nooit betrokke by landbou nie, wil nie boer nie of kan nie boer nie. Daar is wel genoeg boere – wit en swart – wat wil en kan boer. Die regering moet hierdie boere bemagtig om van klein, ontwikkelende boere na kommersiële boere te groei.
Bestaansboere moet ondersteun word, maar die klem moet val op kommersiële landbou. Dit is waar die land se kos vandaan kom. Nét so moet die verwerking van landbou-produkte aandag kry om gemeenskappe op te hef. Tot nou toe is dit nog net leë woorde.
So lank as wat die ANC-regering in beheer is met sy rampspoedige beleid wat landbou en ekonomiese groei ondermyn, sal die beste minister en amptenare geen verskil maak nie. Die ANC is die kern van die landbouprobleem in Suid-Afrika.
Kontaknommer: 082 490 6663


