Is nasiebou en eenheid nog enigsins op die agenda vir die Suid-Afrikaanse regering? Verdelende openbare uitsprake en die stand van sake in die departement wat hoofsaaklik na binnelandse aangeleenthede moet omsien – binnelandse sake – laat ‘n mens onwillekeurig hierdie vraag vra.
Suid-Afrika is 'n gemeenskap van gemeenskappe. 'n Land met elf amptelike tale en 'n wapen met die Khoise woorde wat beteken verskillende of diverse mense moet verenig. Dit is ‘n wekroep na enkelinge en nasies om in nasionale belang saam te werk.
Die funksionaliteit van die departement is egter nie na wense nie en die VF Plus is bekommerd oor die feit dat verskeie waarnemende poste in die departement nie gevul is nie.
Dit sluit in die poste van direkteur-generaal sedert Augustus 2018, adjunk-direkteur-generaal, burgerlike dienste sedert Augustus 2017, asook adjunk-direkteur-generaal van inligtingstelsels en teenkorrupsie sedert laat 2014. Dit is poste van kritieke belang vir die departement.
Dienslewering is ewe kommerwekkend. Daar word gereeld gehoor dat mense jare lank, in sommige gevalle tot vier jaar lank, sukkel om ‘n identiteitsdokument te bekom. Sulke swak diens en ondoeltreffendheid is nie aanvaarbaar nie.
Die gebrek aan 'n geïntegreerde benadering tot grensbestuur en ‘n onvoldoende hawe-infrastruktuur is verdere probleme wat reggestel moet word.
Die departement se begroting is ontoereikend en ‘n bedrag van R8.339 miljard is aan hom toegeken teenoor die aangepaste begroting van R9.047 miljard in die afgelope boekjaar.
Daar is wesenlike probleme in die departement en die VF Plus doen ‘n beroep op die regering om dit reg te stel in die belang van al die inwoners van Suid-Afrika.
Kontaknommer: 082 466 3786