Terwyl president Cyril Ramaphosa droom van ‘n beter Suid-Afrika, bly onbuigsame arbeidswetgewing met faktore soos Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) van die grootste hindernisse in die pad van ekonomiese groei en werkskepping.
Nie net is dit moeilik om onbekwame werksmense af te dank nie, daar moet ook aan transformasieteikens voldoen word. Werkgewers, nie net werknemers nie, moet ook die ondersteuning van die departement van arbeid geniet.
Dit is van die hoofredes waarom groot maatskappye hul fabrieke en sake na ander lande neem wat plaaslike werkloosheid tot gevolg het. Daarom is dit belangrik vir die departement om ‘n gesonde balans daar te stel. Werknemers moet teen uitbuiting en wanpraktyke beskerm word, terwyl daar ruimte gegun moet word vir die private sektor, veral vir klein sake-ondernemings, om werk te skep.
Die departement sal erns moet maak met sy nuwe taak om werk te skep. Tans is baie van wat die departement doen en voorstaan, in kontras met hierdie nuwe mandaat aangesien dit lei tot minder werksgeleenthede. Aan die een kant bepaal die departement se begroting dat hy arbeidswetgewing moet uitvoer wat werkskepping bemoeilik, aan die ander kant moet hy werk skep. Dit is onmoontlik.
Verkeerde prioriteite en populistiese beleidsrigtings moet gestaak word. Suid-Afrika het ‘n welsynstaat geword waar sowat 17 miljoen mense afhanklik geword het van maatskaplike toelaes. Meer mense is afhanklik van hierdie toelaes as die 16.3 miljoen wat wel werk het.
Suid-Afrika se uitgebreide werkloosheidskoers, inaggenome moedelose werksoekers, is tans 38% en jeugwerkloosheid ‘n skokkende 55.2%. Die afhanklikheid aan maatskaplike toelaes het tussen 2001 en 2016 met 328% toegeneem. Hierdie syfers illustreer duidelik dat die departement ‘n reuse taak op sy skouers het om hierdie welsynstaat-skip om te draai – en dit met ‘n ontoereikende begroting.
Die voor die hand liggende oplossing vir Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem, is dat volhoubare ekonomiese groei bevorder moet word. Dit sal egter nie gedoen word deur die blote herverdeling van rykdom nie. Ook hier moet herbesin word oor die betrokke wetgewing.
Oplossings is om weg te doen met skadelike beleid en arbeidswetgewing, die mag van vakbonde wat hand aan hand loop met stakings moet ingeperk word, selfs deur wetgewing, RA en SEB moet afgeskaf word, ‘n billike jeugloonsubsidie sonder rassediskriminasie kan groot voordele inhou en daar moet noue samewerking tussen departemente wees – soos met die onderwysdepartement – om die jeug voor te berei vir die arbeidsmark.
Suid-Afrika beskik weens sy jeugdige bevolking oor ‘n demografiese dividend wat kan help om ekonomiese groei te bewerkstellig. Dit moet tot voordeel van almal aangewend word met ‘n volhoubare beleidsrigting sonder rassediskriminasie en verdelende arbeidspraktyke.
Kontaknommer: 072 997 8315