Na ʼn stryd van dekades wat die VF Plus gevoer het teen beleid en wette van die ANC-regering wat suiwer op ras gegrond is, is daar vandag oor ʼn wye spektrum hande gevat oor die aangeleentheid.
Politieke partye waaronder die VF Plus, sakelui, vakbonde, landbou-organisasies, onderwysorganisasies en talle ander burgerlike organisasies het namens miljoene Suid-Afrikaners ʼn gesamentlike resolusie aanvaar wat beswaar aanteken teen die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming wat streng kwotas vir die werkplek daarstel en in geheel onderhewig is aan die diskresie van die ANC.
Dié wet is verteenwoordigend van alle wette en regulasies wat regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) rig waarteen die VF Plus sedert sy ontstaan hewig gekant was. Die gevolge van hierdie beleid en wette is presies die teenoorgestelde van wat dit beoog en is die uitstaande rede waarom die land ekonomies op die afgrond steier.
Die groot probleem met die ANC se rassewette is dat niemand bemagtig is nie en geen onreg reggestel is nie. Onder hierdie beleid is tewens nuwe en meer onregte geskep en net enkele persone met direkte ANC-verbintenisse is bevoordeel. Die res van die bevolking is besig om te verarm met werkloosheid wat hoogty vier en ʼn nasionale infrastruktuur wat in duie stort tot nadeel van almal in die land, wit en swart.
Ingevolge die resolusie wat aanvaar is op ʼn werkswinkel van Solidariteit in Centurion, sal elke persoon en groep wat hom daarmee vereenselwig, op sy eie manier protes teen die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming aanteken.
Die resolusie lui onder meer dat die ondertekenaars ʼn stelsel van maatskaplike manipulering verwerp wat volmag aan die minister van arbeid en indiensneming gee om die Suid-Afrikaanse samelewing op grond van ras te manipuleer.
ʼn Beroep word op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om onderwys en opleiding reg te ruk om sodoende ʼn gesonde, vaardige arbeidsmark daar te stel.
Die riglyne van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) oor regstelling en die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Rassediskriminasie (ICERD), bepaal onder meer dat spesiale maatreëls tydelik moet wees, nie slegs op ras gefokus kan wees nie, op mense se sosiaal-ekonomiese posisie moet fokus en klem moet lê op opleiding en ontwikkeling.
ʼn Beroep word deur die resolusie op die regering gedoen om by die riglyne van die IAO en ICERD te hou.
Die resolusie doen ook ʼn beroep op internasionale forums om druk op die regering uit te oefen om binne internasionale norme oor ras te bly.
Die VF Plus verwelkom die verwikkeling en sien dit as die begin van ʼn sterk groeiende openbare weerstand teen die regering wat volgende jaar by die stembus op die spits gedryf kan word.
Navrae: 072 997 8315