Die VF Plus is baie bemoedig deur die besluit van die Menseregtekommissie (MRK) om Edward Zuma by die Gelykheidshof aan te kla asook strafregtelik te laat vervolg, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts sê dit dui op ‘n MRK wat ‘n nuwe blaadjie omgeslaan het en nou vreesloos sy grondwetlike mandaat gaan uitvoer soos dit hom betaam. Die VF Plus sal wel die MRK vorentoe dophou om te sien of dit wel die geval is.
Hy sê in die verlede was dit ‘n gespartel om swart-teen-wit of swart-teen-bruin-oortredings vervolg te kry deur die MRK. Die feit dat die MRK gewoonlik spoedig en uit eie beweging opgetree het as swartes die slagoffers van vermeende menseregteskendings was, het duidelik gedui op bevoordeling.
“Die data tot die VF Plus se beskikking ná ‘n Paia-aansoek aan die MRK gerig is oor klagtes wat die MRK sedert 2000 ontvang het, het ook uitgewys dat die MRK geen kriteria het wanneer die instansie besluit het om uit eie beweging te vervolg nie. Dit het gedui op irrasionele, bevooroordeelde en lukrake vervolgings.
“Die hoop is egter nou daar dat die nuwe MRK- kommissarisse onder leiding van die hoofkommissaris, mnr. B. Majola, wel ewewigtig gaan optree.
“In ‘n gesprek tussen myself en kommissaris Majola hierdie week is gemene grond gevind dat almal in Suid-Afrika ‘n taak het om die polarisering in die gemeenskap te beveg en dat niemand wen as daar eskalerende polarisasie sou wees nie.
“Kommissaris Majola het my ook meegedeel dat die besluit om Edward Zuma te vervolg Maandag reeds geneem is, nog voordat die VF Plus sy ultimatum aan die MRK gerig het om teen hom op te tree.
“Na jare se gesukkel is hierdie optrede baie bemoedigend en dui dit daarop dat die MRK hopelik nou uiteindelik die grondwetlike instrument sal wees wat almal in beskerming sal neem, ongeag ras,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403