fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

MRK moet optree teen minister van arbeid wat dié instelling ondermyn

Dit is onaanvaarbaar dat ‘n regeringsminister een van die staat se eie grondwetlike instellings ondermyn en die VF Plus sal vra dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) optree teen die minister van arbeid, Mildred Oliphant, wat die MRK se bevindings oor Regstellende Aksie (RA) openlik ondermyn.

Die MRK het in onlangs bevind die toepassing van regeringsbeleid rakende RA is ongrondwetlik en die regering moet stappe neem om dit te verander.

Aangesien die MRK soos die Openbare Beskermer (OB) ‘n Artikel 9-instelling van die Grondwet is wat die steun van die regering in die parlement moet ontvang, het Oliphant nou die teenoorgestelde gedoen en dié liggaam se bevinding oor RA verwerp.

Luidens ‘n berig gister in Rapport het Oliphant gesê die regering “sukkel” met die MRK aangesien die MRK “twyfel saai” oor die grondwetlikheid van die Wet op Billike Indiensneming.

Twee weke gelede is voorgestelde wysigings aan dié wet in die Staatskoerant gepubliseer wat neerkom op ‘n rigiede en drakoniese kwotastelsel in die werkplek. Ingevolge dié wysigings sal die regering voortaan self besluit oor rasse-teikens in die werkplek. Maatskappye wat nie daaraan voldoen nie, sal verbied word om met die staat sake te doen.

Benewens die feit dat Oliphant en die regering hulle nie aan die land se eie grondwetlike instellings steur nie, sal verskeie internasionale ooreenkomste en verdrae, soos met die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) en die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekommissie, geskend word indien die wet wel verander word.

Hierdie ondermyning van staatsinstellings deur die ANC is onheilspellend en onaanvaarbaar. ‘n Bevinding van ‘n Artikel 9-instelling kan net deur ‘n hof getoets word.

Dit is juis grootliks vanweë die vernietigende effek van RA dat kritieke kennis en ervaring in die openbare sektor verdwyn het. Die tragiese gevolge daarvan kan oral in die land gesien word, maar veral in plaaslike regering waar dienslewering feitlik tot ‘n stilstand gekom het.

Die MRK kan nie toelaat dat sy mandaat en funksionering op hierdie wyse ondermyn word nie. Die VF Plus sal daarop aandring dat die MRK die gepaste stappe teen die minister neem en terselfdertyd aanbeveel dat die beoogde wetswysigings geskrap word.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.