Eskom se besluit om Brian Molefe weer aan te stel as Eskom se hoof maak ‘n bespotting van die verdoemende verslag van die vorige Openbare Beskermer (OB) (State of Capture) oor Molefe se verhouding met die Guptas, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.
Adv. Alberts sê die boodskap wat hiermee uitgestuur word, is duidelik dat die regering besluit het dat die bewerings wat in die verslag teen Molefe gemaak word, nie verder ondersoek gaan word nie aangesien hy nie sou kon terugkeer met die wete dat ‘n ondersoek op hande is nie.
Die OB-verslag het onder meer bevind dat Molefe en Ajay Gupta mekaar 58 keer gebel het tussen Augustus 2015 en Maart 2016 en dat selfoonrekords hom in die omgewing van die Guptas se woning Saxonwold geplaas het kort voordat ‘n Gupta-maatskappy ‘n kontrak van R600 miljoen van Eskom losgeslaan het.
“Daar kan sekerlik nie twyfel wees dat Eskom ‘n boodskap van pres. Jacob Zuma gekry het dat Molefe nie ondersoek gaan word soos die OB aanbeveel het nie. Die aanbevelings in die verslag kan net verander word deur ‘n hof. Die president moet dit nou reeds deeglik besef.
“Molefe het hiermee die ondubbelsinnige boodskap gekry dat hy gevrywaar sal word. Die beweringe teen hom is nog nie ondersoek nie. Volgens die VF Plus is dit deel van die Zuma-kamp se poging om sy politieke en ekonomiese greep op die land te verstewig.
“Die afgelope jare is gekenmerk deur uiters swak korporatiewe bestuur by Eskom, en om dit te kroon die verdoemende verslag oor sy bestuurshoof se aandeel in wat die OB staatskaping noem.
“Nou kry hy net die groen lig om met sy vernietigingswerk voort te gaan. Dit is ‘n klap in die gesig van elke Suid-Afrikaner en ‘n blatante, openlike poging van die betrokkenes om voort te gaan met die proses van staatskaping en om Eskom verder leeg te melk in die proses.
“Indien Molefe nie voorheen ‘n shebeen by Saxonwold besoek het nie, sal hy nou die geleentheid kry om dit te doen. Die VF Plus sal die verwikkelinge rondom Eskom en Molefe met valkoë dophou,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403


