Die erfenis van Kimberley omvat die strewes en stryd van verskeie groepe, wat die geskiedenis van Suid-Afrika help bepaal het. Die VF Plus in Kimberley se fokus val vanjaar op die opofferings van Afrikanervroue en -kinders sowat 120 jaar gelede in konsentrasiekampe. Dit was tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902.
Aangesien Erfenisdag die jaar oor 'n langnaweek geval het, het 'n groep Kimberley-inwoners, wat die VF Plus insluit, besluit om die Konsentrasiekamp-gedenkteken oor die naweek van 2 Oktober in ere te herstel.
Die feit dat die magtige Britse Ryk nie die klein Boererepublieke kon verslaan sonder om plase te verbrand, vee uit te roei en vroue en kinders na konsentrasiekampe weg te voer nie, dui aan hoe vasberade daardie geslag was. Uiteindelik was dit nie diegene wat in die konsentrasiekampe gesterf het wat die geskiedenis na die oorlog bepaal het nie, maar die wat oorleef het.
Welvarende mense wat deur hierdie optrede tot ellende en uiterste armoede gedwing is, het binne twee geslagte uit die as opgestaan en 'n welvarende land met eerlike regering opgebou. Toekomstige geslagte het die lyding van die konsentrasiekampe telkens as inspirasie gebruik. Die oprigting van hierdie monument getuig daarvan.
Oor die afgelope jare het dit egter uit die mode geraak om die Afrikaner se erfenis te gedenk, sodat openbare fondse nie daarvoor aangewend word nie. Dit is in die verwaarlosing van hierdie gedenkteken sigbaar.
Soos die toekoms, is die verlede in 'n volk se eie hande.
Navrae: 083 454 9410