Die noodsaak van ‘n gebeurlikheidsplan in geval van ‘n plaas-of huisaanval is weer eens bevestig na twee plaasaanvalle die afgelope dae in Gauteng.
‘n Groep van nege rowers het Vrydagmiddag ‘n seun en dogter in die Rodora-distrik buite Randfontein aangeval en aangerand waarna hul met ‘n brandkluis, wapens en kontant in ‘n bakkie gevlug het.
Die rowers het voorgegee dat hulle mielies wou koop. Dit wil voorkom asof die roofbende geweet het die ouers was nie tuis nie. Hulle het ook presies geweet waar die kluise was.
In ‘n tweede voorval Dinsdagoggend vroeg op ‘n kleinhoewe in die Elandshoek-distrik naby Cullinan, is twee mans in hul slaap deur vier rowers oorval. Die rowers het ‘n skoot afgevuur, die mans rondgeruk en vasgebind. Hulle het kort daarna met waardevolle items en twee voertuie gevlug. Dit volg enkele weke na ‘n groot veediefstal op dieselfde perseel.
Dit is lank reeds duidelik dat die Suid-Afrikaanse polisiediens se misdaadintelligensie-stelsels ver tekort skiet en misdadigers vry rondbeweeg.
Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners in veral landelike gebiede om hul eie inligtingstelsels op te skerp en ag te slaan op vroeë waarskuwings.
In soortgelyke gevalle kan ‘n gebeurlikheidsplan tydens ‘n aanval die verskil tussen lewe en dood beteken.
Kontakbesonderhede: 082 466 3786 / 062 391 1804