fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Gauteng se departement van infrastruktuur vermors miljoene

Belastingbetalers sal vanjaar meer as R620 miljoen betaal vir geboue wat onvoltooid deur die Gautengse departement van infrastruktuur gelaat is.

Die departement het erken daar is veertien onafgehandelde projekte. Dit kan toegeskryf word aan onder meer swak vakmanskap en aan maatskappye wat reeds betaal is, maar nie hul verpligtinge nagekom het en die werk voltooi het nie.

Die VF Plus het die Gautengse infrastruktuurskomitee vir ‘n gespesialiseerde ouditverslag gevra met betrekking tot ondertekende diensvlakkontrakte met diensverskaffers en kontrakteurs. Dit blyk dat 70% van sulke kontrakte nie behoorlik deur die onderskeie partye onderteken is nie wat vervolging bemoeilik.

Belastinggeld gaan dus op groot skaal verlore omdat bouwerk vroegtydig begin sonder dat die vereiste diensvlakkontrakte onderteken is. Die VF Plus waarsku gereeld in raadsale dat ‘n tenderdokument nie ‘n diensvlakkontrak vervang nie.

Die komitee het die Gautengse departement van infrastruktuur beveel om voor die einde van die maand ‘n volledige lys van onvoltooide geboue aan die komitee te verskaf.

Hierdie situasie beklemtoon opnuut die onvermoë van die ANC-regering om ‘n provinsie suksesvol te bestuur.

Onderprestasie van kontrakteurs, korrupsie en swak werk is nie die enigste rede waarom projekte nie voltooi word nie. In ander gevalle is maatskappye genoodsaak om hul deure te sluit omdat die regering kontrakteurs nie betaal nie.

Die Gautengse premier, David Makhura, het in sy provinsiale openingstoespraak belowe diensverskaffers sal binne vyftien dae betaal word. Hy het egter nie aangedui wat die provinsie gaan doen om maatskappye wat reeds groot verliese gely het weens geen of agterstallige betalings, te vergoed nie.

Die VF Plus sal nie toekyk hoe belastingbetalers se swaarverdiende geld verkwis word nie. Daar moet verantwoording gedoen word om ongerymdhede en onbevoegdheid uit te skakel.

Kontaknommer: 071 604 9498

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.