Die aanstelling van mnr. David Mahlobo as minister van energie op Dinsdag 17 Oktober 2017, die herbevestiging van die regering se verbintenis tot hidrobreking op Donderdag 19 Oktober 2017 en hernude fokus op wysigings van die Energiereguleringswet wat in Desember 2016 voorgestel is, skep ‘n donker prentjie vir Suid-Afrika, sê dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se Noord-Kaapse leier.
Dr. Boshoff sê regerings wêreldwyd doen als in hul vermoë om energie uit fossielbronne uit te faseer, maar in Suid-Afrika gebeur die teenoorgestelde. Terwyl son- en windkrag reeds goedkoper as konvensionele elektrisiteit is, klou die regering aan hidrobreking en kernkrag vas.
“Hernubare krag het nie die koolstofvoetspoor of waterverbruik van steenkoolkrag nie en die afval is nie so durend of gevaarlik as dié van kernkrag nie. Dit stel verbruikers in beheer van hul eie energieverskaffing en maak die land meer kompeterend. Tog wil die regering dit blykbaar nie hê nie.
“Verbruikers mag tans soveel as 1 megawatt se opwekkingsvermoë vir eie gebruik ontwikkel, maar sal dit volgens die voorgestelde wysigings moet registreer.
“Berigte oor die mate waartoe Eskom gekaap is, skep die vermoede dat dit presies is waarom die regering met hidrobreking en kernkrag voortbeur. Verbruikers kan die kaping van energievoorsiening stuit deur gedeeltelik aan hulle eie energiebehoeftes te voldoen. Dalk is dit waarom die regering ook dáároor beheer wil verkry.
“Dit lyk dus of dit vir die huidige ANC nie genoeg is om die staat te kaap nie, hulle kaap nou die burgers ook. Burgers kan dit afweer deur, terwyl dit nog nie gereguleer word nie, soveel moontlik hernubare krag te installeer,” sê Boshoff.
Kontaknommer: 074 166 5540