Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Emfuleni-munisipaliteit versuim om Nersa-regulasies na te kom

Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) het vir die afgelope vyf jaar nie die voorgeskrewe NERSA-lisensieregulasies nagekom nie en die VF Plus gaan daarom ’n amptelike klag teen die munisipale bestuurder, mnr. Oupa Nkoane, by die polisie indien.

Die voorwaardes bepaal dat die munisipaliteit 8% van die totale inkomste wat jaarliks uit elektriese verkope verdien is, aan elektriese instandhouding in die dorp moet bestee.

Die jarelange versuim om gereelde infrastruktuur-instandhouding te doen, het veroorsaak dat infrastruktuur in Emfuleni nou totaal in duie gestort. Fondse vir instandhouding sou beskikbaar gewees het as Emfuleni die NERSA-lisensie regulasies nagekom het.

Die waarnemende burgemeester, mnr. Robert Thema, het tydens ‘n raadsvergadering op 31 Januarie 2019 erken die regulasie is nie nagekom nie, omdat Emfuleni nie oor die nodige fondse beskik nie.

Mnr. Nkoane is nie in staat om toe te sien dat grondwetlike verpligtinge en dienslewering aan belastingbetalers nagekom word nie. Uiterse swak en/of geen beplanning deur munisipale bestuurders en departementshoofde is aan die orde van die dag.

Daar is jare lank reeds ‘n kritiese tekort aan gekwalifiseerde mannekrag en veral elektrisiëns. Personeel sonder kwalifikasies of tegniese vaardighede is in poste aangestel – ‘n direkte gevolg van Regstellende Aksie (RA).

Die standaard-opgraderingsplan ten opsigte van verouderde elektriese instandhouding op netwerke is nog steeds nie gedoen nie. Vandalisme en verouderde substasies lei tot kragonderbrekings en inwoners kom gereeld in opstand teenoor die munisipaliteit.

Die Geïntegreerde-ontwikkelingsplan (IDP) is ook nog steeds nie in lyn met die munisipaliteit se huidige begroting nie, al is die begroting onbefonds.

Die bestuurspan van Emfuleni tree oneties op en het weereens bewys dat hul die dorp nie kan bestuur nie. Swak finansiële beplanning laat die munisipaliteit dieper in die skuld wegsak.

Daar bestaan ’n moontlikheid dat Eskom in die toekoms Emfuleni se kragtoevoer kan opskort. Emfuleni se vervalle substasies en elektriese netwerk sal nie die invloei van hoofstroom-elektrisiteit kan hanteer nie en enorme skade kan aangerig word.

Die VF Plus het dus geen keuse as om ’n amptelike klag teen die munisipale bestuurder in te dien nie. Emfuleni se stadsraad moet verplig word om die NERSA-regulasies na te kom.

 

Kontaknommer: 076 616 2124

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.