fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Emfuleni-munisipaliteit se water- en elektrisiteitsprobleme vergroot daagliks weens agterstallige betalings

Rand Water en Eskom se besluit om die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se waterdruk en elektrisiteitskapasiteit te verminder, kan lei tot ‘n grootskaalse watertekort in dié gebied.

Rand Water se besluit om Emfuleni se waterdruk met 20% weens wanbetaling te verminder, is die gevolg van die munisipaliteit se onvermoë om hul afbetalingsooreenkomste na te kom. Die Emfuleni-munisipaliteit skuld Rand Water R1,1 miljard en is R994 miljoen agterstallig.

Eskom het intussen die elektriese stroomsterkte vanaf 600 na 300 ampère verminder wat die watertoevoer na groot gedeeltes van Emfuleni belemmer. Rand Water voorsien die Langerand-waterpompstasie in Sonlandpark, Vereeniging van water waarna dit afgevoer word na verskeie watertorings in Emfuleni.

Die VF Plus is van mening dat die verminderde elektriese stroomsterkte asook die verlaagde waterdruk besig is om te lei tot die leegloop van die watertorings.

Inwoners wat in die verlede boorgatwater gebruik het, kan nie langer van dié bron gebruik maak nie weens ondergrondse waterbesoedeling.

Belastingbetalers word daagliks gekonfronteer met kabeldiefstal, waterlekkasies, verouderde infrastruktuur en water- en elektrisiteitonderbrekings wat toegeskryf word aan wanbestuur van die Emfuleni-munisipaliteit.

Die VF Plus het op vele geleenthede die burgemeester, Gift Moerane, en munisipale bestuurder, Lucky Leseane, gevra om te verduidelik waarom hulle nalaat om Eskom en Rand Water te betaal aangesien die munisipaliteit elke maand sowat R370 miljoen van belastingbetalers ontvang.

Die VF Plus sal hom aanhou beywer vir ‘n skoon en verantwoordbare regering en sal ongerymdhede en korrupsie in munisipaliteite openbaar om so te verseker dat belastingbetalers die dienslewering ontvang wat hulle toekom.

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.