Die Matlosana-plaaslike munisipaliteit, wat Klerksdorp, Stilfontein, Hartbeesfontein en Orkney bedien, sal moontlik ongelukkig weer die swak en selfdienende leierskap van sy voormalige burgemeester, Maetu Kgaile, moet verduur. Kgaile is verlede maand deur middel van ‘n mosie van wantroue uit die kussings gelig.
Die verkiesing van ‘n nuwe burgemeester moes vandag gedurende ‘n spesiale raadsvergadering plaasgevind het, maar is vir sewe dae uitgestel na die DA en EFF die raadsaal verlaat het.
Opposisielede was in die meerderheid gedurende vandag se vergadering met 27 lede teenoor die ANC se 25.
Aangesien geen ander opposisieparty ‘n kandidaat vir die burgemeestersposisie gestel het nie het die VF Plus ‘n kandidaat teen Kgaile, wat weer deur die ANC genomineer is, gestel. Die VF Plus se hoofdoelwit is om alles in sy vermoë te doen om te voorkom dat daar weer 'n onbevoegde burgemeester tot nadeel van die gemeenskap verkies word en sal nie terugdeins nie.
Die opposisie sou daarin geslaag het om vandag die ANC te verslaan en die belangrikste posisie in die raad op te neem as die DA nie teruggedeins het en die raadsaal verlaat het nie. Die vergadering is vir sewe dae uitgestel, wat die ANC die kans gun om hul sake in orde te kry en te verseker dat daar ‘n volstrekte ANC-meerderheid in die volgende vergadering teenwoordig is.
Dit is uiters betreurenswaardig dat die pogings deur opposisiepartye wat deur middel van die suksesvolle mosie van wantroue in Kgaile voltrek is, nou waarskynlik in die wiele gery is as gevolg van sekere opposisiepartye onder leiding van die DA se onbesonne besluit om die raadsaal te verlaat en nie vir die opposisie-kandidaat te stem nie.
Die VF Plus sal egter voortgaan om die belange van die hele Matlosana-gemeenskap te dien, sonder vooroordele en goedkoop politiekery. Die VF Plus sal nie skroom om terug te slaan teen swak bestuur en swak dienslewering nie.
Kontaknommer: 079 409 8342