‘n Klag van omkopery en korrupsie wat die VF Plus verlede week teen twee Rustenburgse stadsraadslede van die DA en die EFF by die Valke ingedien het, het daartoe gelei dat die plaaslike stadsraad besluit het om hul optrede amptelik te ondersoek, sê De Wet Nel, VF Plus-raadslid vir Rustenburg.
Volgens Nel gaan die raad se reëls- en ordeskomitee beweringe van wangedrag ondersoek teen Agnes Tsamai van die DA en Johannes Motswane van die EFF.
Nel sê dié aangeleentheid het ‘n opskudding op die dorp veroorsaak en die VF Plus verwelkom die vinnige besluit van die stadsraad.
“Ek het verlede week al die tersaaklike opnames en dokumente aan die Valke oorhandig en sal gereeld navraag doen oor die vordering van die ondersoek.
“Die raad se besluit om hierdie raadslede te ondersoek is ‘n stap in die regte rigting en stuur hopelik ‘n sterk boodskap uit dat geen korrupsie of bedrog deur raadslede voortaan geduld sal word nie.
“Korrupsie is ‘n kanker wat elke faset van ons samelewing bedreig. Hierdie kultuur van oneerlike selfverryking moet ten alle koste beveg word en die VF Plus onderneem om alles in sy vermoë te doen om te help om politieke ampsdraers verantwoordbaar te hou,” sê Nel.
Kontaknommers: 082 529 3001