Die gebeure rondom die verwydering van mense op Clifton se Vierde Strand en wat daarop gevolg het, is ‘n duidelike vingerwysing na die gebrekkige polisiëring in die Kaapse metro.
Die VF Plus wil sien dat reg en orde in alle gevalle geskied. Mense kan nie sonder meer ‘n strand verbied word nie en net so is dit onaanvaarbaar dat ‘n skaap op ‘n openbare strand geslag word. Beide gevalle moet ondersoek word en daar moet teen die skuldiges opgetree word.
Dit blyk dat die DA wat in beheer is van die stad en provinsie, nou groter magte vra wat onder meer polisiëring aanbetref. Die VF Plus bepleit jare reeds groter outonomiteit vir die streek op alle gebiede, insluitend polisiëring, sodat ‘n effektiewe diens op alle terreine aan die gemeenskap gelewer kan word.
Die kommerwekkende agteruitgang van netheid in die Kaapse middestad en die snel groeiende voorkoms van skuilings vir haweloses in die stad en veral in die omgewing van die parlement, die Kompanjiestuin en om die Kasteel, getuig egter daarvan dat die metro nie die politieke wil het om die magte waaroor hy wel beskik, te gebruik nie.
Die skaap wat op Clifton se strand geslag is sonder enige optrede van wetstoepassingsbeamptes, is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.
Die optrede van sommige politieke partye soos BLF, die EFF en die ANC om politieke munt uit die voorval te slaan, is ‘n duidelike voorbeeld van die optrede van partye wat bankrot is aan ware beleid en daarom ‘n voorval soos hierdie aangryp om goedkoop politieke punte aan te teken.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 065 801 7216