Die Vryheidsfront Plus het vandag 'n strafregtelike klag gelê teen die Mangaung-metroraad se uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli en die waarnemende stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, weens die voortslepende waterkrisis wat Bloemfontein die afgelope week lamlê. (Foto meegaande)
"Ingevolge die Wet op Waterdienste, Wet 108 van 1997, is dit Mlamleli as politieke hoof en Mea as administratiewe hoof van die metro se verantwoordelikheid om te verseker dat inwoners doeltreffende, bekostigbare, ekonomiese en volhoubare waterdienste ontvang," sê dr Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metroraad.
“Die waterkrisis wat Bloemfontein se woonbuurte tans ervaar, is die direkte gevolg van 'n tekort aan bevoegde amptenare en 'n gebrek aan 'n politieke wil in die metro se bestuur om die voortslepende waterprobleme daadwerklik aan te spreek.
“Die watervlakke van die damme wat Mangaung voorsien, het reeds kritieke vlakke bereik. Dit is onaanvaarbaar dat duisende kiloliter water nou verlore gegaan het weens die onkundigheid en onbevoegdheid wat tot die bars van die pype gelei het.
"Die watertekort het nou verreikende ekonomiese, maatskaplike en gesondheidsgevolge in 'n stad wat dit nie kan bekostig om die krisis van die afgelope sewe dae te ervaar nie. Sakelui, gesondheidsdienste en skole is afhanklik van water en kan nie funksioneer tydens enige waterkrisis nie.
“Dit is ook die metrobestuur se verantwoordelikheid om op sy beurt te verseker dat die waterverskaffer, Bloemwater, sy pligte nakom om te verseker dat inwoners water het.
“Die afgelope week se krisis, wat as instandhoudingswerk begin het, sou nie plaasgevind het indien die burgemeester en stadsbestuurder daadwerklike maatreëls in plek gestel het om die soveelste watertekort af te weer nie.
"Inwoners word nou hulle grondwetlike reg op water ontneem weens swak bestuur deur die ANC-beheerde metro.
“Die VF Plus sal voortgaan om druk op Mangaung-metro te plaas om te verseker dat inwoners noodsaaklike dienste kry en sal ook in die raad vra vir 'n oudit van waterinfrastruktuur sodat 'n breedvoerige verslag oor die waternetwerk opgestel en 'n kostebepaling vir herstelwerk gedoen kan word," sê Snyman-van Deventer.
Kontakbesonderhede: 082 305 1540
(Foto: Devar Smit en dr. Elizabeth Snyman-van Deventer, VF Plus-raadslede, het ‘n strafregtelike klag gelê teen die Mangaung-metroraad se uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli en die waarnemende stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea weens Bloemfontein se voortslepende waterkrisis.)