Provinsiale gesondheidsorg in Gauteng het die afgelope dekade so agteruitgegaan dat politici en amptenare nie meer antwoorde het vir diegene wat afhanklik is van die stelsel nie.
In die 2018/19-finansiële jaarverslag is R115 miljoen se mediese regseise ontvang en ‘n verdere R4,9 miljard se eise is nog uitstaande.
Daar is ook geen uitsluitsel oor die elektroniese inligting-bergingsgerief wat in September 2014 teen ‘n bedrag van R500 miljoen aangekoop is nie. Die stelsel is nooit geïmplementeer nie.
Provinsiale hospitale is in ‘n haglik toestand en gaan daagliks agteruit. Dit terwyl verslae aandui dat miljoene rand verkwis en wanbestee word.
Die voorgestelde begroting is onvoldoende om mediese sorg en infrastruktuurontwikkeling in Gautengse gesondheidsorg te verbeter.
Die premier van Gauteng, David Makhura, het in sy openingsrede belowe dat diensverskaffers en kontrakteurs binne 15 dae na voltooiing van werk betaling sal ontvang.
Hy het egter nie melding gemaak van hoeveel maatskappye bankrot is weens wanbetaling deur die provinsie nie. Die VF Plus wil graag weet hoe dié departement sy uitstaande skuld gaan vereffen.
Politici is bevoorreg om ‘n mediese fonds te hê en daarom daag die VF Plus die ANC-politici uit om van provinsiale gesondheidsorgdienste gebruik te maak.
Dit is maklik om hospitale en klinieke te besoek en verslae daaroor te skryf. Ons moet egter in diepte probleme ondersoek en saam oplossings vind. Inwoners van Gauteng verdien die beste mediese behandeling en gesondheidsorg.
Kontaknommer: 066 010 1053


