fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

ANC se beplande veiligheidsforum nog ‘n leë belofte

Die ANC se beplande gemeenskapsveiligheidsforum, wat glo geskep gaan word om die stryd teen misdaad in die Manguang-metro te bestry, sal ‘n leë belofte bly solank as wat departemente soos die metropolisie nie behoorlik funksioneer nie.

Metro-polisielede ontvang tans volle betaling om by die huis te sit omdat die munisipaliteit nie oor die politieke en administratiewe wil beskik om die eenheid ten volle funksioneel te kry nie.

Bloemfontein is volgens die jongste statistiek een van die 25 gevaarlikste stede in die wêreld.

Die VF Plus is van mening dat ‘n forum vir gemeenskapsveiligheid ‘n stap in die regte rigting is, maar dat dit nie sal funksioneer, of tot misdaadbekamping sal bydra indien die ondersteunende strukture nie funksioneel is nie.

‘n Geïntegreerde plan teen misdaad moet daargestel word wat die metropolisie, verkeersdienste en samewerking met die polisie en buurtwagte insluit.

Daar moet effektiewe polisiëring en wetstoepassing op grondvlak plaasvind en nie net vergaderings oor veiligheid wat nie werklik ‘n verskil aan misdaadvlakke sal maak nie.

‘n Funksionerende munisipaliteit met effektiewe bestuur sal die bekamping van misdaad vergemaklik.

Die metro se eie veiligheidsdienste, tesame met die verkeersdepartement moet die middele verskaf om verkeersoortredings en geringe misdade soos die onwettige storting van vullis en oortreding van ander bywette te bekamp.

Bekwame gesondheids- en bouinspekteurs moet ook aangestel en in staat gestel word om die nakoming van bywette en regulasies af te dwing.

‘n Bydraende faktor tot die wanfunksionering van sleuteldepartemente soos die metropolisie is korrupsie en wanbestuur in die munisipaliteit. Dit lê verskeie departemente lam en moet uitgeroei word.

Die VF Plus sal voortgaan met sy stryd om ‘n funksionerende metro en effektiewe misdaadbestryding op grondvlak daar te stel.

Die mense van Mangaung verdien beter as die ANC.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.