'n Samelewing word gemeet aan die wyse waarop hy sy vroue en kinders behandel, en statistiek van die staat in hierdie verband, dui ongelukkig aan dat Suid-Afrika koud staan teenoor die wyse waarop dié weerlose deel van ons gemeenskap behandel word, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts sê ‘n samelewing wat geweld teen vroue en kinders toelaat, is op ‘n glybaan waar enigiets eindelik toegelaat sal word.
Hy het gesê vroue en kinders moet gekoester en beskerm word en daar moet indringend gevra word waarom die voorkoms van geweld teenoor hulle so hoog is en wat gedoen kan word om dit stop te sit
“Die vraag moenie wees waarom die statistiek so hoog is nie, maar waarom dit enigsins bestaan. Die oorsake van hierdie tipe geweld en mishandeling is terselfdertyd eenvoudig en kompleks. Eenvoudig omdat die oortreders nie bedreig en bang voel om die dade te pleeg nie, en kompleks omdat die oortreder dikwels self die slagoffer van geweld was.
“Oorsake is gegrond in gebrekkige polisiëring deur beide die polisie en die gemeenskap wat daardie onsigbare muur van moraliteit kan versterk deur afkeur en vervolging. Die komplekse oorsaak is te vinde in die wyse en plek waar ons opgroei. In Suid-Afrika in sy geheel is die gebruik van geweld op soveel vlakke aanvaarbaar.
“Ander invloede is die media by wyse van onder meer die internet, films, televisie, daaglikse nuus en advertensies, die invloed van ouers wat dalk self met geweld in die huishouding opgegroei het.
“Bogenoemde toon aan dat ons as gemeenskap nog altyd ondermyn is deur een of ander vorm van boelie-gedrag. Die kenmerk van ‘n afknouer is dat hy of sy onbehoorlike invloed of mag oor ‘n ander persoon het. Dit kan selfs ‘n land se regering wees. Eers wanneer ons dit raaksien en besef, kan dié houvas, en die kringloop van geweld, gebreek word.
“’n Goeie vertrekpunt tot ‘n oplossing in hierdie verband is om die kragte wat slagoffers kan beskerm, soos die polisie se kinderbeskermingseenheid, te versterk.
“Skep ‘n godsdienstige etos by skole om waardes soos respek aan te kweek en geestelike groei aanhelp en bemagtig gemeenskappe deur ‘n groter rol as waghond aan hulle toe te vertrou. Verwyder die remskoene vir ekonomiese groei en kweek ‘n gesonde en groeiende middelklas.
“Sulke stappe kan gesien word as ‘n beleggingspolis vir die toekoms. Daarsonder stap ons ‘n gevaarlike pad waar die Suid-Afrikaanse samelewing sal transformeer tot hel op aarde. Ongelukkig is dit reeds so vir baie vrouens en kinders in die land,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216


