"Die ANC pluk nou die wrang vrugte van hierdie swak grensbeheer en moet daarom die volle verantwoordelikheid aanvaar vir die afgelope xenofobiese aanvalle in die land," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Groenewald sê die jongste vlaag xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika is die gevolg van die ANC se gebrekkige en swak beheer van die land se grense, en in besonder die noordelike grens van Suid-Afrika
Hy sê dit is onbillik dat Suid-Afrika se belastingbetalers moet opdok vir verbode immigrante en dat belastinggeld nie behoorlik aangewend word tot voordeel van sy eie burgers nie. ‘n Land se eerste prioriteit is om om te sien na die welstand van sy eie inwoners.
"Elke land het ‘n immigrasiebeleid, maar ongekontroleerde toegang van immigrante in enige land plaas geweldige druk op so ‘n land se fiskus, sy maatskaplike dienste soos gesondheid, sy waterbronne, elektrisiteit en veral werksgeleenthede.
"Suid-Afrika beleef ‘n krisis in terme van werkskepping omdat die ekonomie nie groei nie weens die ANC se sosialistiese benadering van die ekonomie en die nie-toepassing van vryemark-beginsels.
"Namate werkloosheid in die land toeneem, voorsien die VF Plus meer xenofobiese aanvalle omdat Suid-Afrika se burgers van werksgeleenthede ontneem word.
"Die standpunt van die VF Plus is dat daar strenger opgetree moet word teen onwettige immigrante en dat behoorlike grensbeheer toegepas moet word deur onder meer korrupsie by grensbeheerposte uit te roei en deur die behoorlike patrollering van die land se grense," sê Groenewald.