"Die nasionale inperkingsperiode om die verspreiding van die Covid-19-virus te keer, het ‘n groot uitwerking op die mense van Suid-Afrika en op die land se ekonomiese voortbestaan," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Die infeksiekoers van Covid-19 moet hokgeslaan word terwyl daar op ‘n verantwoordelike en innoverende wyse meer ekonomiese aktiwiteit toegelaat word.
"Die VF Plus het aanbevelings aan president Cyril Ramaphosa en die Covid-19-Nasionale Taakspan voorgelê met die doel om dringende ingrypings voor te stel om probleme wat tans ervaar word weens die verkeerde toepassing en/of vertolking van die regulasies aan te spreek, tekortkominge in die huidige regulasies uit die weg te ruim en positiewe veranderinge rakende die regulasies teweeg te bring tot voordeel van die publiek en die ekonomie.
"Die aanbevelings is onder meer om munisipale owerhede se verkeerde vertolking van die regulasies aan te spreek, om duidelikheid aan wetstoepassingsowerhede te gee ten aansien van onder watter omstandighede Suid-Afrikaners hul huise mag verlaat en watter vorms/permitte van toepassing is, om skryfbehoeftes as noodsaaklike goedere te lys, om die agterstand by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) aan te spreek, hardeware beskikbaar te maak vir toelaatbare kritieke instandhoudingswerk, noodsaaklike landbou-aktiwiteite soos veeveilings met toepaslike maatreëls toe te laat, om buurt- en plaaswagte toe te laat om ten volle te funksioneer, poreuse landsgrense aan te spreek, verpligte maatreëls daar te stel om die verspreiding van die virus te beperk by ondernemings wat noodsaaklike produkte verkoop of dienste lewer, om die verlies aan staatsinkomste te beperk en om aanlynhandel en die aflewering van goedere moontlik te maak.
"Dit sluit ook in om dit moontlik te maak vir onder meer restaurante om op bestelling wegneemetes aan klante af te lewer.
"Die VF Plus stel ook voor dat die regering ‘n aanlynwinkel inisieer om kleinhandelaars, soos in die kuns- en kunsvlyt- of kleresektor, in staat te stel om hul produkte aanlyn te verkoop.
"Daar moet kennis geneem word dat die meeste Suid-Afrikaners kwesbaar geword het en dat die kwesbaarste onder normale omstandighede nog kwesbaarder geword het. Alle Suid-Afrikaners is tans kwesbaar rakende die pandemie en die sosio-ekonomiese gevolge van die ekonomiese ineenstorting."
"'n Persoon wat 'n maand gelede 'n bestendige inkomste gehad het en wat vir sy/haar gesin kon sorg, het skielik uiters kwesbaar geword. 'n Persoon wat 'n verband en ander finansiële verpligtinge kon bekostig, is skielik bankrot. Hierdie kwesbaarheid strek oor alle rasse, ouderdomme en geslagte.
"Die regering moet die kwesbaarheid van veral diegene wat minder as 'n maand gelede kon werk, persone in diens kon neem en bestee – dus kon bydra tot ekonomiese groei en werkskepping – in ag neem.
"Indien nie, sal Suid-Afrika na Covid-19 selfs meer van 'n welsynstaat wees met min tot geen kans op ekonomiese herstel. In sulke omstandighede sal diegene wat afhanklik was van die nuwe kwesbares, die swaarste ly," sê Groenewald.