Die VF Plus in Pretoria ondersteun die besluit deur die Tshwane-metroraad om elektrisiteit na 47 woonstelle in Sunnyside af te sny.
Die elektrisiteitskuld van die Tambotie-woonstelle beloop bykans R1 miljoen. Al die kragkoppelings na die eenhede was onwettig.
Tydens ‘n ondersoek by dié 17-verdiepping gebou is 175 eenhede gevind wat onderverdeel word en beslis die aantal inwoners per woonstel oorskry.
"Elektrisiteitsverliese weens onwettige aansluitings het belastingbetalers van Pretoria in die 2016/17-finansiële jaar R1,6 miljoen gekos," sê Awie Erasmus, VF Plus-raadslid in die Tshwane-metroraad (Pretoria).
"Misdadigers het te lank op betalende inwoners se rug gery wat aan einde van die dag hoër tariewe moet betaal weens onwettige elektrisiteitsverbruik. Die raad kan nie langer toekyk hoe mense die wet oortree en daarmee wegkom nie. Onwettige kragverbruikers gaan vervolg word en skuldinvordering opgeskerp word.
"Die VF Plus as koalisie-vennoot het versoek dat die saak behoorlik ondersoek word en mense wat wel vir elektrisiteit betaal, nie benadeel word nie," sê Erasmus.