Die VF Plus in Noordwes verwelkom die uitreiking van amptelike polisie-riglyne oor optrede tydens kapingsvoorvalle.
Die riglyne van die kantoor van die provinsiale kommissaris in Noordwes se wenke sluit in wat motoriste te doen staan as hulle gekonfronteer word deur wetstoepassingsbeamptes wat verdag optree.
Hierdie praktiese riglyne is gepubliseer op versoek van die VF Plus ná ‘n merkbare styging in die aantal kapingsvoorvalle in die provinsie.
Dit sluit ‘n voorval die afgelope naweek in waar ‘n jong man buite Potchefstroom gekaap en ontvoer is deur persone wat hulle as verkeersbeamptes voorgedoen het.
Die jongste beskikbare misdaadstatistiek toon dat daar in die tydperk vanaf April tot einde Junie hierdie jaar 145 kapings in die provinsie aangemeld is.
Dit is byna 11% meer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Die VF Plus steun die polisie se oproep op motoriste om ten alle tye waaksaam te wees en te let op enige verdagte optrede.
Die belangrikheid dat motoriste seker maak daarvan dat hulle deurentyd telefonies bereikbaar is en dat hul naasbestaandes kennis dra van hul voorgenome reis en verwagte aankoms by hul bestemming, kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Die VF Plus sal voortgaan om konstruktief met die polisie en gemeenskapsveiligheidsstrukture saam te werk om die veiligheid van inwoners en besoekers aan Noordwes te bevorder.