"Die eiendomwaardasies op die nuwe munisipale waardasierol van die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit, wat onder andere Zeerust, Lehurutse en Groot Marico bedien, is buitensporig en hou glad nie verband met werklike markwaarde nie," sê Karlien Venter, VF Plus-raadslid in die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit
Inwoners is geweldig ongelukkig oor die buitensporige waardasies. In sommige gevalle is van die eiendomme tot 600% meer waardeer as wat dit werd was.
Dit is onseker wie die waardasies gedoen het en op watter wyse dit gedoen is, maar dit is duidelik dat die waardasies glad nie behoorlik en met die nodige insig en omsigtigheid gedoen is nie.
Wetgewing bepaal dat ‘n waardasierol elke vyf jaar hersien moet word, maar dat sodanige tydperk met die toestemming van die LUR vir plaaslike regering verleng kan word.
"Die VF Plus het die raad versoek om ‘n voorstel aan die LUR voor te lê wat behels dat die hersiening van die waardasierol vir ‘n tydperk van een jaar uitgestel word. In hierdie tyd kan die waardasies dan op ‘n behoorlike en deursigtige wyse geskied.
"Eienaars kan beswaar aanteken teen die nuwe voorgestelde waardasies van hulle eiendom en baie het dit reeds gedoen. Die VF Plus moedig eienaars aan om beswaar aan te teken teen buitensporige waardasies.
"Dit sou geweldig baie tyd, geld en ander hulpbronne gespaar het as die munisipaliteit hierdie projek van meet af reg aangepak het.
"Hierdie proses moet hersien word en waardasies met billik en regverdig gedoen word," sê Venter.