Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus sal Sadou inlig oor doelwit van privaatlid-wetsontwerp om protesaksies naby skole te verbied

Die onderwysvakbond Sadou se kritiek op ‘n privaatlid-wetsontwerp van die VF Plus wat  hoofsaaklik daarop gemik is om protesaksies naby skole te verbied, wys dat Sadou die doelwit van die wetsontwerp verkeerd verstaan en die VF Plus is bereid om die ware oogmerke daarvan aan die vakbond te verduidelik.

Sadou sê in ‘n verklaring die wetsontwerp is “rassisties” en is daarop gemik om “wit skole wit te hou”.

"Dit is hoegenaamd nie die bedoeling met die wetsontwerp nie. Die duidelike oogmerk daarvan is om protesoptogte voor alle skole en instansies waar minderjariges teenwoordig is, te verbied om kinders van alle rasse te beskerm," sê Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder vir basiese onderwys.

"Alhoewel die gebeure by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging die sneller was vir die skep van die wetsontwerp, is gewelddadige protesaksies voor of naby skole ‘n algemene verskynsel, ook by swart skole, en is dit ewe ontwrigtend vir wit en swart leerlinge."

Die VF Plus se siening is dat minderjariges nie betrek moet word by protesaksies nie.

"Selfs nie-gewelddadige protesaksies kan traumaties vir minderjariges wees en die wetsontwerp se oogmerke is duidelik moreel korrek.

"Die VF Plus is bereid om met Sadou te vergader om aan hulle die ware oogmerke te verduidelik.

"Die kennisgewing oor die wetsontwerp is op Donderdag 21 Junie 2018 in die staatskoerant gepubliseer, en die publiek word dertig dae gegun om daarop te regeer. Die finale wetsontwerp sal geskryf word aan die hand van onder meer die insette en voorstelle wat van die publiek ontvang sal word," sê Alberts.

Die VF Plus sal ‘n bewusmakingsveldtog oor die aangeleentheid op sosiale media voer en het reeds ‘n webwerf geskep waar mense kan registreer om hul steun te toon. Die webwerf is www.onskinders.co.za.  

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.