Minister Pravin Gordhan se mediumtermyn-begroting klink baie positief met hoop vir die toekoms as slegs na die woorde geluister word. As die syfers egter van nader bekyk word, is dit negatief en die teenoorgestelde.
Sy verwagte belastingtekort is R11 miljard en R23 miljard op die langer termyn. Dit beteken dat hy reeds praat van oor die R40 miljard in addisionele belasting wat in die toekoms geïn moet word. Die risiko hiervan is dat jy met 'n te hoë belastinglas ekonomiese groei verder kan demp in plaas van stimuleer.
Die VF Plus is teleurgesteld dat die regering steeds net oor semi-staatsinstellings praat sonder enige werklike aksie of besluite. Die minister het breë riglyne aangekondig oor hoe semi-staatsinstelling hanteer moet word, maar dit lyk of hy die bal vir die president en die adjunk-president aangee van waar daar geen besluite oor semi-staatsinstellings kom nie.
Die Suid-Afrikaanse belastingbetalers kan nie langer semi-staatsinstellings soos die SAL, Eskom, die Poskantoor, Landbank ens. finansieel dra nie. Selfs al word die SAL weggegee, is dit steeds positief vir die stygende skuldsituasie van die Suid-Afrikaanse regering.
Tans word reeds vir R147 miljard begroot om net die rente op staatskuld te betaal. Hierdie begrotingsitem is die item wat die vinnigste styg van alle items in die begroting. Dan kom die waarborge van die staat vir hierdie semi-staatsinstellings ook nog by.
Wat positief is, is dat die minister nie onder die druk geswig het om allerlei populistiese aankondigings te doen nie. Hy gaan probeer om by sy aangekondigde fiskale dissipline te hou waarin die VF Plus hom sal ondersteun. Dit sal help om 'n kredietafgradering te voorkom.
Die VF Plus glo dat die kredietgraderingsmaatskappye tans meer kyk na die die politieke gevolge van die minister se hofverskyning binnekort en of hy nog ses maande polities gaan oorleef as spesifiek na die begrotingsyfers alleen.
Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670