Die Vryheidsfront Plus het ‘n petisie geloods om die Vanderkloofdam se naam te behou en versoek belanghebbendes om dit te teken uit protes teen ‘n beplande naamsverandering.
Die Interministeriële Komitee vir die eeufeesjaar van oudpresident Nelson Mandela het vroeër aangekondig dat die Vanderkloofdam na Mandela vernoem gaan word.
Die Vanderkloofdam is in 1977 voltooi, nadat bouwerk in 1971 op die oewerplaas Vanderkloof begin het.
Die plaas het sy naam ontleen van ‘n smal rivierloop tussen die rante, wat dit die ideale plek vir 'n damwal gemaak het.
Dit is na P.K. le Roux vernoem, aangesien hy as minister van waterwese hom vir die ontwikkeling van die Oranjerivier beywer het.
Le Roux se sleutelrol in die skema, wat tans 'n bakermat van die Noord-Kaapse ekonomie is en die hele land van voer en graan voorsien, is daardeur erken.
“Die geskiedenis is reeds verskraal toe sy naam in 1996 verwyder is,” sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-leier in die Noordkaap
“Die dorp aan die suidelike hang is na die plaas Vanderkloof vernoem en is, sedert dit in 1987 munisipale status verkry het, 'n gewilde toerisme-oord.
“Dit is reeds deur die ANC-regering benadeel toe dié hoogs suksesvolle munisipaliteit by die die disfunksionele Renosterberg-munisipaliteit ingedeel is.
“Die vraag is egter of geen projek sedert 1994 genoeg trots wek om na oudpresident Mandela te vernoem nie.
“Die VF Plus versoek mense van regoor Suid-Afrika, maar veral belanghebbendes in die Oranjerivier-skema om hulle teenstand teen hierdie plan bekend te maak.
“Die petisie sal einde Junie aan die voorsitter van die betrokke komitee, Jeff Radebe, oorhandig word,” sê Boshoff.