Die mees onlangse plaasaanval in die Matjiesfontein-omgewing in Limpopo, ‘n gebied waar daar lanklaas sulke voorvalle plaasgevind het, is skokkend en onaanvaarbaar.
"Plaasaanvalle is duidelik nie aan die afneem nie en word nie met genoegsame erns deur die owerhede benader nie. Dit is ‘n reuse probleem wat dringend aandag verg." sê Marcelle Maritz, VF Plus-provinsiale leier in Limpopo
"Boere en plaaswerkers is kwesbare teikens omdat hulle in afsondering woon en die polisie gaan gebuk onder ‘n reuse vaardigheids- en hulpbron-tekort. Dit is ‘n bose kringloop waaruit aanvallers en booswigte voordeel put.
"Die Cross-egpaar wat gedurende die aanval Dinsdagaand beseer is, sterk aan in die Mediclinic Thabazimbi en hul uiterlike letsels sal genees, maar die skok en trauma wat met so ‘n aanval gepaard gaan, sal nie so maklik genees nie.
"Die VF Plus het in ‘n dringende skrywe die provinsiale polisiekommissaris versoek om toe te sien dat alle moontlike hulpbronne ingespan word om die aanvallers vas te trek. ‘n Sterk boodskap moet gestuur word dat sulke misdade onder geen omstandighede geduld sal word nie.
"Samewerking tussen die gemeenskap en polisie is uiters belangrik en moet ook bevorder word.
"Die VF Plus beywer hom vir die veiligheid van ons land se landbouers en doen ‘n beroep op hulle om te alle tye paraat te wees en alle moontlike veiligheidsmaatreëls te tref, sê Maritz