Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus kla Panyaza Lesufi aan vir minagting van die Grondwet

Die VF Plus het vandag ‘n klag rakende minagting van die Grondwet ingedien by die Integriteitskommissaris van die Gautengse wetgewer teen dié provinsie se LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi.

Die klag, wat 389 bladsye beslaan, dui aan hoe Lesufi in die tydperk van 2014 tot 2018, Artikel 29 van die Grondwet verbreek en geminag het.

Lesufi is ook aangekla in terme van Artikel 135 van die Grondwet, gelees saam met Bylae 2, Artikel 5. 

Volgens laasgenoemde word elke premier of LUR ingesweer as lid van ‘n wetgewer met dien verstande dat lede van die uitvoerende raad van ‘n provinsie, voordat hulle begin om hul funksies te verrig, ooreenkomstig Bylae 2 ‘n eed of plegtige verklaring van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet moet aflê.

Volgens Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng, het Lesufi reeds hierdie Artikel van die Grondwet oortree deur Artikel 29 van die Grondwet, 272 keer te minag. 

Van Staden sê Artikel 29 van die Grondwet stel dit duidelik dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of taal van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.

"Die VF Plus het hierdie klag teen Lesufi ingedien nadat hy op 12 April vanjaar die registrasiestelsel vir graad 1 en -8 leerlinge aangekondig het, wat verskeie wenkbroue laat lig het, omrede Lesufi dit op daardie stadium duidelik gestel het dat die taalbeleid van Gauteng-skole geen rol in die aansoekproses speel nie.

"Die VF Plus het op daardie stadium gewaarsku dat Lesufi weer die tafel dek vir openbare geweld by skole en dat hy besig is om moedertaalonderrig uit skole te dwing.

"Lesufi se jongste poging om Afrikaans as taal, en Afrikaanse skole te vernietig, is reeds in die staatskoerant gepubliseer waar die LUR nuwe regulasies voorstel en die VF Plus is van mening dat die LUR se pogings nie langer geduld mag word nie en dat hy nou die gevolge van sy dade moet dra. Die VF Plus het die Integriteitskommissaris versoek om die klagtes teen Lesufi te ondersoek en die nodige stappe te neem.

"Indien Lesufi skuldig bevind word, moet hy sy amp as LUR en lid van die provinsiale wetgewer ontruim omrede hy dan die gedragskode van ampsbekleërs in die Gautengse wetgewer oortree het. Die VF Plus spreek ook die hoop uit dat die ondersoek na die klag met die nodige erns en aandag ondersoek sal word," sê Van Staden.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.