fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus gryp in by onwettige uitsettingspoging

Die VF Plus in Gauteng het ‘n inwoner van Pretoria te hulp gesnel wat die afgelope naweek ‘n dertig dae-uitsettingskennisgewing van die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling ontvang het.

Die persoon, wat sedert 1990 op die eiendom woon, is aangesê om die eiendom te verlaat aangesien ‘n nie-bestaande ‘huurkontrak’ wat glo met die departement aangegaan is, nie nagekom is nie. Dit terwyl die persoon die wettige eienaar van die eiendom is met ‘n verband by ‘n bekende finansiële instelling.

Die eienaar van die woning het uit desperaatheid om hulp te kry die kennisgewing op sosiale media geplaas waar die VF Plus se LPW in Gauteng, Philip van Staden, dit opgemerk en dadelik opgetree het om te help.

Van Staden het ‘n gesprek gevoer met die LUR van infrastruktuurontwikkeling in Gauteng, Jacob Mamabolo, en die skrywe onder sy aandag gebring

"Die VF Plus het die bewys van die verbandakte op die eiendom aan die LUR oorhandig en aangedring op ‘n dringende ondersoek rakende die saak" sê Van Staden.

"Die eiendom se verband is sedert 2008 by ‘n bekende finansiële instelling.  Die LUR het onderneem om die saak te ondersoek en ook self met die eienaar in verbinding getree," sê Van Staden.

Die VF Plus in Gauteng wil graag inwoners van alle eiendomme in Gauteng waarsku om nie enige skrywes van ‘n Gautengse departement sonder meer te aanvaar om ‘n eiendom te verlaat nie. As jy die wettige verbandhouer op die eiendom is of die eiendom is reeds afbetaal en by die aktekantore op ‘n eienaar se naam geregistreer, kan geen staatsinstelling hetsy munisipaal of provinsiaal, aan eienaars briewe oorhandig om die eiendom te verlaat nie.

Met die huidige vlaag grondgrype wat tans in die provinsie plaasvind, moet eienaars op hul hoede wees. Indien enige eienaar ‘n skrywe van enige departement af ontvang om eiendom te verlaat en hulle is die wettige verbandhouer of akte-eienaar, moet die VF Plus dadelik hiervan in kennis gestel word by:help@vfplus.org.za.

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.