Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus bekommerd oor misdaad in JB Marks-plaaslike munisipaliteit

Die kommerwekkende vlakke van misdaad in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom, Ventersdorp) het die VF Plus genoop om te vra dat die burgemeesterskomiteelid dadelik optree om inwoners se veiligheid te verbeter. 

Die VF Plus vra in ‘n skrywe dat ‘n vergadering dringend belê word om beter funksionering en samewerking tussen al die organisasies en instansies wat met die veiligheid van die munisipaliteit se inwoners gemoeid is, te bewerkstellig.

Die jongste opspraakwekkende voorval, waartydens ‘n jong paartjie, Nanna Viviers en Albert John, wreed aangerand is in hul huis in Baillie Park, Potchefstroom het opnuut die kollig op misdaad in dié gebied geplaas.

"Die wrede aanval is uiters kommerwekkend.  Die mate van geweld wat met die aanval gepaard gegaan het, is skrikwekkend en dui op ‘n veel groter probleem as kleinskaalse diefstal of blote huisroof," sê Fanie du Toit, VF Plus-raadslid in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit

"Die afgryslike aanranding wat Viviers moes verduur terwyl die minimum gebuit is, laat vrae ontstaan oor die werklike motief van die aanvallers.

"Die VF Plus spreek hiermee sy meegevoel uit met Viviers en John, asook met alle ander slagoffers van misdaad. Die party wil ook ‘n beroep doen op mense om paraat te wees en aan te sluit by buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums.

"Alhoewel die polisie se vinnige optrede prysenswaardig is, ondervind dié diens ‘n geweldige tekort aan hulpbronne en daar is veral ‘n groot tekort aan polisielede.

"Die ANC faal die burgers van die land toenemend op elke moontlike gebied en die komende algemene verkiesing sal aan kiesers die geleentheid bied om dit reg te stel deur hul afkeer in die ANC te wys by die stembus," sê Du Toit.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.