“Hoewel die VF Plus nie beswaar daarteen het dat Donderdag se staatsrede uitgestel is nie, is dit ‘n wesenlike probleem dat dit slegs ‘n dag voor die staatsrede aangekondig word, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
“Logistieke reëlings vir die staatsrede is reeds ver gevorder. Gaste van regoor die wêreld sou dit bywoon. Hotelbesprekings is gedoen en vliegtuigkaartjies gekoop. Om dit te kanselleer en te verander gaan groot onnodige koste vir die betrokkenes teweeg bring.
"Dit is duidelik dat die ANC sukkel om van pres. Zuma ontslae te raak."
“Die uitstel van die staatsrede laat ook geen twyfel nie dat daar binne die ANC die gevoel is dat mnr. Cyril Ramaphosa die staatsrede moet lewer en nie pres. Jacob Zuma nie. Die uitstel is daarom dan ook ‘n oorwinning vir die Ramaphosa-faksie in die ANC.
“Dit is duidelik dat die ANC sukkel om van pres. Zuma ontslae te raak en die argument dat die ANC nie twee sentrums van mag kan hê nie, is ‘n swak argument. Toe pres. Zuma in 2007 verkies is as pres. van die ANC, het Kgalema Motlanthe president geword nadat pres. Thabo Mbei herroep is.
“Die twee magsentrums in die ANC was in plek totdat pres. Zuma in 2009 president geword het.
"Dit is daarom duidelik dat die argument bloot daarop gemik is om van pres. Zuma ontslae te raak,” sê dr. Groenewald.