Die minister van finansies, Tito Mboweni, identifiseer wel die regte probleme wat die oorsaak is van die land se ekonomiese stagnering, maar net die tyd sal leer of hy daadwerklik sal of kan optree om iets daaraan te doen.
Dr Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het in reaksie op Mboweni se mediumtermyn-begroting Woensdag gesê die minister se grootste probleem is sy eie politieke party wat nie die politieke wil het om daadwerklik op te tree om onnodige besteding te sny, die salarisrekening van die staat te verminder en sodoende beleidsekerheid te skep nie.
Mboweni het selfs aangehaal uit die Bybel (Jesaja 58:12) waar dit lui dat die bouvalle van ‘n stad herbou moet word.
Groenewald sê dit is ‘n erkenning dat die ANC Suid-Afrika tot in die grond afgebreek het en dat daar net ‘n bouval van die land oorgebly het. Die minister het egter nagelaat om te sê presies hoe die ekonomie van die land weer opgebou gaan word.
Die staat stort R9,1 miljard in die bodemlose put van mislukte staatsentiteite
"Ekonomiese groei sal nie plaasvind terwyl die ANC-regering met sy beleidsrigting van onteiening sonder vergoeding voortgaan nie.
"Die minister se identifisering van enkele probleemareas is wel positief is en skep die indruk skep dat hy weet wat fout is. ‘n Voorbeeld is staatsinstellings soos die SAL. Hy sê dié entiteite moet veranderings ondergaan en dat hulle bestuur onder die vergrootglas geplaas moet word.
"Nogtans is hy bereid om ‘n soveelste reddingsboei van R5 miljard na die redery uit te gooi. In totaal stort die staat R9,1 miljard in die bodemlose put van mislukte staatsentiteite om uit hul finansiële probleme te kom," sê die VF Plus-leier.
Die salarisrekening van staatsamptenare is ook uitgelig as ‘n probleem. Die minister het bekend gemaak daar sal na afloop van die nuwe toegestaande salarisverhogings vir staatsamptenare ‘n tekort van R30,2 miljard oor die mediumtermyn wees om te befonds.
"Die rente op staatskuld sal na verwagting tot R221 miljard in 2021 styg"
Mboweni begroot egter nie vir hierdie verhoging nie. Dit beteken dat departemente hul diensleweringsbegrotings hiervoor sal moet aanwend indien hul nie afleggings van amptenare doen nie.
"Dit gaan tot nadeel van dienslewering wees. Die vraag ontstaan of dit regverdig is om die publiek te straf wanneer wanbestuur die probleem veroorsaak het," sê Groenewald.
"Die VF Plus sien rente op staatskuld as ‘n wesenlike probleem op die pad na ekonomiese herstel. Hierdie rente beloop nou al R162 miljard per jaar. Aangesien die inkomste-invordering van die staat verswak terwyl uitgawes en behoeftes meer word, sal die staat nog meer skuld moet aangaan.
"Die rente op staatskuld sal na verwagting tot R221 miljard in 2021 styg. Dit beteken die belastingbetaler kan hom gereed maak vir verhogings in persoonlike belastings vanaf Februarie aanstaande jaar.
"Die minister beloof verder om streng op te tree teen korrupte amptenare. Dit het die president ook al gesê en die Zondo-kommissie is ‘n bevestiging hiervan. Tot nou toe is daar egter steeds nie ‘n enkele persoon in hegtenis geneem en strafregtelik oor korrupsie vervolg nie.
"Dit is ook positief dat die minister die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank beklemtoon het.
"Die regte probleme is geïdentifiseer. Dit sal nou opgevolg moet word met daadwerklike optrede indien die minister erns daarmee het om die land se ekonomie te red. Dit is egter duidelik dat die ANC-regering nie in staat is om ekonomiese herstel te bewerkstellig nie en daarom is daar ‘n veelparty-regering met die VF Plus as vennoot nou nodig," sê Groenewald.