Twee motorongelukke Dinsdagoggend op die R24 en R14 in Tarlton, kon vermy gewees het indien Mogale City se omgewing-ontwikkelingsplanne behoorlik toegepas word en verkeersmaatreëls na behore uitgevoer word.
Die ongelukke was op bekende plekke in Tarlton buite Krugersdorp waar gereeld motorongelukke plaasvind.
Amanda de Lange, VF Plus-raadslid in Mogale City is Dinsdagoggend vroeg ontbied na die eerste toneel voor die Transnet-depot op die N14. 'n Brandstof-tenkwa het volgens ooggetuies voor aankomende verkeer van die brug af by die depot ingedraai. (Foto onderaan verklaring)
Groot hoeveelhede swaarvoertuie deel die N14 wat deur Tarlton loop, met gereelde padgebruikers in beide rigtings.
De Lange sê die ingang na die depot is gevaarlik naby 'n treinoorbrug geleë en die Vryheidsfront Plus is lank reeds besig om veiligheid vir padgebruikers in die omgewing te probeer beding.
Gautrans het onlangs die pad breër by die ingang gemaak, maar dit bied nie die nodige oplossing nie. "Daar is geen waarskuwingstekens om verkeer te waarsku dat daar swaarvoertuie is wat die ingang na die depot gebruik nie en spoedwalle wat deur Gautrans gebou is, is totaal oneffektief," sê de Lange.
Sy sê die ideaal sou wees om die ingang van die depot te skuif en verbygaande verkeer te herlei om beter verkeersvloei te bewerkstellig. Die VF Plus sal hieroor gesprek voer met Gautrans, Mogale City-openbare veiligheid en Transnet.
‘n Tweede ongeluk het kort na die Tarlton-ongeluk op die R24 se Ventersdorp-aansluiting plaasgevind waarin een persoon oorlede is.
Dié gedeelte van die R24 is ook baie besig met 'n T-aansluiting vanaf Ventersdorp en 'n paar meter verder, 'n groot afdraai na een van die besigste motorhawes en winkelsentrums in die gebied.
Volgens Mogale City se omgewing-ontwikkelingsplan vir Tarlton sou daar jare gelede reeds broodnodige veranderinge en dienspaaie om verkeer beter te reguleer, in plek gewees het. Enkele jare gelede is daar oorhoofse ligte by die kruising aangebring, maar die voorgestelde verandering om verkeer te beveilig is nooit aangebring of aandag daaraan gegee nie.
Beide die R24 (Krugersdorp-, Magaliesburgpad) en die N14 (Ventersdorp–, Pretoriapad) is twee hoofroetes vanaf die Noordwes-provinsie en Botswana na die res van Gauteng. Mogale City-stadsraad is jare reeds bewus van die verkeersprobleme, maar toon geen belang om gemeenskappe en padgebruikers in die omgewing te beveilig nie.
"Die probleem is tewens vererger deur ‘n reuse laekoste-behuisingsprojek vir sowat 30 000 tot 40 000 inwoners deur Mogale City reg langs die R24. Die gemeenskap gaan verdere druk op die reeds lewensgevaarlike roete plaas met voertuie, voetgangers, minibus-taxi’s en busse wat ook direkte toegang tot die 'pad-van-die-dood' soos hy bekend staan, gaan hê.
"Mogale City volg nie sy eie omgewing-ontwikkelingsplanne nie en lukrake ontwikkelings, wat nie gemeenskappe en padgebruikers se veiligheid in ag neem nie, word toegelaat in 'n oorhaastige poging om verkiesingsbeloftes na te kom in tyd vir die 2019-verkiesing. Dit is onverantwoordelik en totaal irrasioneel.
"Die VF Plus se siening is dat die stadsraad verantwoordelik is vir die verkeersprobleme wat padgebruikers bedreig," sê De Lange.