Ná die onrusbarende toename in die aantal ernstige aanvalle op stappers, strandgangers en fietsryers in en om Kaapstad die afgelope maande terwyl oënskynlik niks bykomend gedoen word om mense te beskerm nie, was dit net ‘n kwessie van tyd voor die eerste noodlottige aanval sou plaasvind, sê dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse leier van die VF Plus.
Dr. Mulder het sy meegevoel uitgespreek met die naasbestaande van die 56-jarige man wat Sondag doodgesteek is terwyl hy en sy vrou op ‘n staproete bokant Muizenberg gestap het. Sy vrou is ook beseer.
"Dit is absoluut onaanvaarbaar dat hierdie politieke speletjie van oor-en-weer-beskuldigings terwyl niemand optree nie, nou daartoe bygedra het dat ‘n stapper vermoor is."
Dr. Mulder sê die antwoord wat die premier van die Wes-Kaap aan die Protea-snelbouler Dale Steyn (Die Burger, 29 Januarie 2018) gegee het op ‘n twiet waarin hy aan me. Helen Zille, Wes-Kaapse premier vra wat Kaapstad doen om misdaad hok te slaan, is eweneens ontstellend.
“Byna net soos met die waterkrisis wil sy geen verantwoordelikheid aanvaar nie, maar pak bloot die skuld op die regering wat volgens haar onderneem het om gevaarlike staproetes in sogenaamde ‘rooi sones’ te laat patrolleer met die weermag.
“Dit is absoluut onaanvaarbaar dat hierdie politieke speletjie van oor-en-weer-beskuldigings terwyl niemand optree nie, nou daartoe bygedra het dat ‘n stapper vermoor is. Indien die roetes bokant Kalkbaai en Muizenberg, waar nege stappers enkele weke gelede met messe aangeval is behoorlik gepatrolleer is, sou dit waarskynlik nie gebeur het nie.
“Vergelyk dit met die Kaapstad se uiters doeltreffende stelsel van parkeerwagte en ander verkeers-wetstoepassers wat selfs na middernag boetekaartjies uitskryf waar mense nie op gemerkte parkeerplekke parkeer nie.
“Daar moet met dieselfde ywer opgetree word om die mense soos stappers te beskerm. Om bloot vinger te wys en die skuld te verskuif is nie aanvaarbaar nie,” sê dr. Mulder.