fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Skooljaar nie só gered – meer onderwysers ís nodig

Die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga, het in antwoord op 'n skriftelike vraag van die VF Plus aangedui dat die departement tans nie oorweeg om enige bykomende onderwysers aan te stel nie. Die departement se oplossing is eerder om van onderwysers te verwag om bykomende periodes waar te neem, sowel as om die leerplan vir vanjaar in te kort.

In baie skole beteken dit dat onderwysers in effek verminder gaan word. Skoolbeheerliggame is in baie gevalle nie in staat om onderwysers wat in hul eie diens is, in diens te hou nie. Dit is omdat die betaalvermoë van ouers drasties afgeneem het.

"Indien die departement nie bereid is om hierdie onderwysers in diens te neem saam met ander vir skole sonder beheerliggaamposte nie, verklein die Suid-Afrikaanse onderwyserskorps in werklikheid," sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese onderwys.

"Wanneer onderwys in die volgende weke infaseer, sal daar al hoe minder lokale beskikbaar wees. Die departement beperk skole byvoorbeeld tot 21 kinders per klas, maar as die vereiste sosiale afstand in ag geneem word, is daar min klasse wat meer as 18 kinders kan huisves.

"Wat die besonderhede ook al is, 'n onderwyser (of ten minste toesighouer) is in elke klas noodsaaklik.

"Die VF Plus doen 'n beroep om die formule vir onderwyservoorsiening, wat tans daarop uitwerk dat een onderwyser vir elke 35,4 kinders aangestel word, vir die res van die jaar aangepas word. Daarsonder sal die skooljaar nie gered kan word nie," sê Boshoff.

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.