fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

SKA-Teleskoop – Staat se onvermoë om beloftes na te kom, ontsier nog ‘n trotse projek wat nasiebou kon bevorder

Die VF Plus is saam met ander Suid-Afrikaners trots op die Square Kilometre Array (SKA) radioteleskoop wat onlangs deur adjunkpresident David Mabuza ingewy is, maar weereens ontsier die ANC-regering ‘n trotse projek deur onsekerhede wat groot ontevredenheid onder die plaaslike gemeenskap veroorsaak.

Dit blyk dat beloftes aan die omliggende gemeenskappe nie nagekom is nie wat ‘n invloed het op die gemeenskapslewe, ekonomie en omgewing waar dié reuse projek uitgevoer word. Mense uit verskillende dele van die gemeenskappe van Carnarvon en Williston het die VF Plus oor hul griewe ingelig en gesê dit wil voorkom of die regering nie erns daarmee het nie.

"Die aanvanklike opgewondenheid het gedaal tot gevoelens wat wissel van versigtige optimisme, tot openlike vyandigheid"

 

Omvang van die projek:

Die hoeveelheid grond wat vir die projek uitgekoop is of nog gekoop gaan word, kom op 130 000 hektaar te staan. Daarbenewens word op ander plase 'n serwituut per skottel geregistreer.

Wat grondeienaars eers na die openbare deelnameproses besef het, is dat die serwituut nie net vir die skottel en toegang daartoe geld nie, maar wel vir  sowat 'n vierkante kilometer (100 hektaar) wat rondom die skottel van alle plantegroei gestroop word.

Omgewingsimpak:

Boere beweer dat verskeie van hierdie vierkante kilometers ook die enigste waterpunte vir 'n groot gebied bevat. Daar is glo plekke waar die karkasse van wilde diere rondlê, omdat daar nie meer vir hulle water beskikbaar was nie.

Dit is onbekend, ook aan veldkenners van die omgewing, of hierdie gedeeltes vir die bestaan van skaars plantsoorte ondersoek is.

Op die oog af lyk dit na die ironiese situasie van 'n natuurwetenskaplike projek wat uitgevoer word sonder 'n deeglike omgewingsimpakstudie.

Ekonomiese impak

Rolspelers met wie die VF Plus gepraat het, is dit eens dat grond op billike voorwaardes van grondeienaars gekoop is en dat dié mense billik vergoed is.

Die indruk word gewek dat plaaslike kontrakteurs en los arbeid voordeel uit die skepping van infrastruktuur trek. Tydens die konstruksiefase is daar dus 'n invloei van geld en werkloosheid word enigsins aangespreek.

Die gasvryheidsbedryf trek aansienlike voordeel uit die projek. Daar is klaarblyklik 'n stroom van belangstellende en professionele besoekers.

Buiten gasvryheid, waar die positiewe impak moontlik volgehou kan word, is daar twyfel of dit die geval met ander inkomstestrome sal wees. Mense is onder die indruk dat die projek 'n klein plaaslike bemanning sal nodig hê, terwyl geskoolde werk wat deel van die projek is, meestal in ander sentra gaan plaasvind.

Die onttrekking van 130 000 hektaar (of selfs meer) kan soos volg beskou word: Konserwatief gereken, het 'n veeboer 8 hektaar per skaapooi nodig. Dit beteken dat meer as 16 000 ooie uit produksie onttrek word. Dit kom neer op verlies in lammerproduksie van ongeveer 20 000 per jaar, of 'n finansiële verlies van soveel as R45 miljoen per jaar, net uit veeboerdery.

Om die vermenigvuldigingsfaktor hiervan te bereken, moet mens in gedagte hou dat 'n groot persentasie van die diere in die onderskeie dorpe geslag en verwerk word voor dit die distrik verlaat. Die aankoop van verbruikersgoedere en boerderybenodigdhede gaan natuurlik ook daaronder ly, terwyl skole, kerke en ander gemeenskapsinstellings beslis die impak sal ervaar.

Die aanvanklike opgewondenheid het gedaal tot gevoelens wat wissel van versigtige optimisme, tot openlike vyandigheid.  Die doel van die projek was onwaarskynlik om hierdie klein en ekonomies kwesbare gemeenskappe te benadeel. Daar is nogtans ‘n gevoel dat dit wel onbedoelde nadele gevolge het.

Die VF Plus se vorige leier, dr. Pieter Mulder, het destyds die versekering gekry van die betrokke minister, me. Naledi Pandor, dat gemeenskappe nie benadeel sal word nie. Dit lyk nie of die nakoming van dié belofte meer hoog op die voorkeurlys is nie.

Dr. Wynand Boshoff is die VF Plus-provinsiale leier in die Noord-Kaap

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.