Die gewelddadige betogings voor die Laerskool Schweizer-Reneke en die Hoërskool Stilfontein asook die onwettige betreding en aanvalle op die een skool – deur die gooi van bakstene – dui daarop dat aanvalle op skole gaan vermeerder en dat wetgewing nodig is om sodanige optrede onwettig te maak en te kriminaliseer.
Dit is waarom die VF Plus verlede jaar ‘n privaatlid-wetsontwerp by die parlement ingedien het om die Wet op die Regulering van Byeenkomste te wysig om enige optog of betoging binne 500m van enige skool of ander instansie waar minderjariges teenwoordig is, onwettig te maak.
In die geval van Schweizer-Reneke het Noordwes se LUR vir onderwys, Sello Lehari, luidens mediaberigte ‘n uiters gevaarlike situasie vir leerlinge geskep deur glo opdrag te gee dat oproeriges nie die skoolgronde belet mag word nie.
"Minderjariges mag nie direk blootgestel word aan politieke- en sosiale aksies en protes-optredes van enige aard nie"
"Selfs die afstandbeheerder waarmee die skool toegangsbeheer toegepas het, is glo deur die polisie afgeneem. Die potensiële gevolge van hierdie optrede is so ernstig dat ‘n strafregtelike klag teen die LUR en die betrokke polisiebeampte ingedien behoort te word in terme van die Nasionale Skolewet wat politieke optrede op skoolgronde verbied en kriminaliseer," sê adv Anton Alberts, VF Plus-LP en parlementêre woordvoerder vir onderwys.
"Die VF Plus se wetsontwerp sal vanjaar in die parlement se polisiekomitee bespreek word sodra die parlement open. Die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, sal saam met adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, die saak stel oor waarom die wetsontwerp wetgewing moet word.
"Minderjariges mag nie direk blootgestel word aan politieke- en sosiale aksies en protes-optredes van enige aard nie. Die Grondwet maak dit duidelik dat minderjariges spesiale beskerming verdien en daarom is die wetsontwerp van kardinale belang om nog ‘n skans van beskerming vir minderjariges daar te stel.
"Ons jeug en ons kinders verdien beter as die geweld wat tans by talle skole afspeel. Hulle mag nooit as politieke speelballe gebruik word nie. Die daarstelling van die wetsontwerp is deel van die VF Plus se Slaan Terug-veldtog wat stabiliteit en verantwoordelike regering in Suid-Afrika wil verseker," sê Alberts.