fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Regstellende Aksie (RA) moet nou plek maak vir gelyke toegang tot die arbeidsmark

"Om billike en gelyke toegang tot die arbeidsmark te verseker, sal daar met Regstellende Aksie (RA) weggedoen moet word. Dit is nie net rassisties nie, maar teenproduktief en ‘n groot rede vir swak dienslewering op plaaslike regeringsvlak," het dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

Groenewald het tydens 'n parlementêre debat Woensdag gesê daar bestaan tans duisende vakante poste op plaaslike regeringsvlak vir onder andere wateringenieurs.

"Dit is vakant aangesien dit gereserveer word vir RA-aanstellings.

"Daar is wel wit en bruin ingenieurs wat hierdie poste kan vul, maar die ANC-regering verkies om hulle nie aan te stel oor hul kleur nie en die direkte oorsaak daarvan is rou riool wat in strate afloop en in riviere beland.

"Dit is totaal onaanvaarbaar dat jong mense wat sedert 1994 gebore is, vandag steeds die prys moet betaal wat werk aanbetref net omdat hulle wit is. Omdat hulle wit is, mag hulle nie werk kry nie. Omdat hulle wit is, mag hulle nie in sekere posisies aangestel word nie en kan hulle nie beurse kry nie.

"Selfs president Cyril Ramaphosa se eie jeugontwikkelingsprogram is ‘n voorbeeld van hierdie rassediskriminasie wat werk aanbetref.

"Jong wittes word by hierdie werksoek-inisiatief van die president uitgesluit. Wanneer hulle elektronies aansoek doen, word hulle outomaties weggewys omdat hulle wit is.

"Eers nadat die VF Plus ‘n klag hieroor ingedien het by die Menseregtekommissie (MRK) is ‘n kosmetiese verandering aangebring wat bepaal wittes kan wel aansoek doen, maar hulle kan steeds nie deel van die skema wees nie.

"Hul CV’s sal bloot aan maatskappye beskikbaar gestel word wat nieteenstaande die voorwaardes van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) dan self kan besluit of hulle ‘n witte in diens wil neem. Dit is hoe diskriminasie in die arbeidsmark lyk.

"Om gelyke en billike indiensneming te verseker, moet daar nou finaal weggedoen word met Regstellende Aksie," het Groenewald gesê.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.