Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Ramaphosa in staat van ontkenning oor inentingsprogram

"Dit wil voorkom of pres. Cyril Ramaphosa in ’n staat van ontkenning verkeer oor die sukses van die regering se Covid-19-inentingsprogram," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Hy sê hy is gelukkig met die vordering wat daarmee gemaak word, maar die realiteit is dat daar tot op hede slegs 67 000 gesondheidswerkers ingeënt is. Dit is reeds ’n mislukking.

"President Ramaphosa het aan die begin van die jaar gesê daar word beplan om altesame 40 miljoen mense teen die einde van die jaar in te ent om kudde-immuniteit te bewerkstellig, maar teen die huidige tempo gaan dit jare neem om daarby uit te kom.

 

"Die VF Plus het reeds gevra waarom private maatskappye soos groot myne nie toegelaat kan word om met die regte voorskrifte hul eie inentingsprogramme te behartig nie."

 

"Baie maatskappye is gretig om dit te doen om weer funksioneel te raak en dit kan die las op die staat tot ’n groot mate verlig. Dit is onverstaanbaar waarom die regering dit nie wil toelaat nie.

"Gegewe die deurlopende afname in die getal nuwe infeksies vanjaar, kon Suid-Afrika reeds ’n maand gelede na vlak een van die nasionale staat van inperking beweeg het aangesien alles moontlik gedoen moet word om die ekonomie op dreef te kry.

"Die VF Plus kan ook nie die nut daarvan insien om steeds enige vlakke van inperking te hê nie, aangesien regulasies soos die dra van maskers in plek is om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.

 

"Intussen maak baie regulasies steeds nie sin nie, soos dat daar slegs ’n honderd mense binnenshuis en 250 buite mag vergader."

 

"’n Lokaal soos die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum kan sowat 5000 mense akkommodeer. Met die regte sosiale afstand kan daar veel meer as ’n duisend veilig binne gehuisves word.

"Die president en die ANC-regering moet die hand neem wat die private sektor na hulle uitsteek.

"Op sy eie het die regering reeds misluk met die inentingsprogram en Suid-Afrika se ekonomie kan dit nie bekostig om onnodig verdere skade te ly weens hierdie onbevoegdheid nie," sê Groenewald.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.