Die privaatlid-wetsontwerp van die VF Plus oor die toelaatbaarheid van openbare byeenkomste naby plekke van onderrig en ander instellings waar minderjariges teenwoordig is, is vandag by die parlement se portefeuljekomitee oor polisie ingedien vir bespreking.
Die wetsontwerp is sowat ses maande gelede reeds in die Staatskoerant gepubliseer en die publiek het toe die geleentheid gekry om insette daaroor te lewer.
Dit is in Januarie vanjaar geïnisieer nadat protesoptredes by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging, waar die EFF ‘n prominente rol gespeel het, groot ontwrigting veroorsaak het. Die doel van die wetsontwerp is daarom om optogte binne ‘n radius van 500 meter vanaf skole en ander plekke waar minderjariges teenwoordig is, te verbied.
"Die wet wat verander sal moet word om dié doel te bereik, is die Wet op die Regulering van Byeenkomste. Dit sal van toepassing wees op skole van voorskoolse- tot sekondêre vlak, asook ander instellings soos kinderhuise," sê Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.
"Tans word die regte van vredeliewende landsburgers, en in die besonder leerlinge, hoegenaamd nie in ag geneem nie en word hul veiligheid bedreig weens die aard wat optogte en protes-aksies aanneem.
"Die VF Plus se beoogde privaatlid-wetsontwerp is daarom van die grootste belang om alle kinders teen ontwrigting te beskerm, veral in skole, en om hul fundamentele regte, soos dit in die Grondwet vervat word, aan te vul," sê Alberts.