Pensioen-trekkers se saak na die konstitusionele hof
Met erkenning aan Sarel van der Walt (joernalis) / Netwerk24 (12 Oktober 2017)
Die sukkelende Transnet-werkers se dekade lange stryd om hul pensioengeld uitbetaal te kry, sal volgende maand in die konstitusionele hof in Johannesburg aangehoor word.
So het adv. Anton Alberts van die VF Plus Woensdagoggend op Kerkplein in Pretoria aan ‘n groot groep Transnet-pensioentrekkers gesê.
‘n Onafhanklike regspan sal die aansoek voor die konstitusionele hof bring.
Van die pensioentrekkers, wat sedert hul aftrede in groot armoede gedompel is, het van so ver as Thohoyandou, Louis Trichardt en Polokwane in Limpopo na Pretoria gereis om die byeenkoms by te woon.
Baie van hulle het nog vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (SAS&H) gewerk.
“Dit is ou mense die. Hulle verdien ‘n beter lewe,” het Alberts gesê nadat hy die byeenkoms met ‘n gebed geopen het.
Hy het gevra dat hulle ‘n versoekskrif onderteken wat hy na die parlement wil neem en aan Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, en Malusi Gigaba, minister van finansies, wil oorhandig.
Hy het gesê protesoptrede word ook beplan vir die oorhandiging van ‘n versoekskrif by Transnet se hoofkantoor in Johannesburg.
“’n Onafhanklike regspan sal die saak in die konstitusionele hof hanteer omdat ons politiek uit die hof wil hou. Ons sal die politieke kant van die saak in die parlement veg,” het Alberts gesê.
“Minister Brown het vir my gesê die Transnet-pensioenarisse se probleme pla haar. As dit so is, moet sy vinniger begin beweeg om die probleem op te los,” het Alberts gesê.
Adjunkpresident Cyril Ramaphosa is ook bewus van die probleem.
“Ongelukkig bevind ons ons nou in ‘n politieke omgewing waar die ANC-politici hul eie oorlewing eerste stel. Hy (Ramaphosa) is besig met ‘n geveg om president van die ANC te word,” het Alberts gesê.
Volgens hom het nuwe inligting oor maatskappye met Gupta-konneksies se stroping van Transnet-werkers se aftreefondse daartoe gelei dat die VF Plus die trustees wat op die Transnet-Tweede Vastevoordeelfonds (TTVVF) se raad dien, en wat direkteure van Transnet is, by die Maatskappyekommissie gaan verkla het en versoek dat hulle onbevoeg verklaar word om as direkteure te dien.
“Dit is nou ook duidelik dat nog geld uit die karige pensioenfonds van Transnet-pensioenarisse verduister is. Die feit dat die TTVVF nou om die verlore geld dagvaar, is te min en te laat,” sê Alberts.
Hy het op ‘n hoop mis gestaan wat vir die gras van Kerkplein, wat tans onder restourasie is, bedoel is.
“Gelukkig is ons hoop nie op ‘n mishoop gebou nie,” het Daan Erasmus (76), ‘n afgetrede sinjaal- en telekommunikasie-ingenieur van Johannesburg met 36 jaar diens, opgemerk.
“Wat vandag hier gebeur, is ‘n skande.
“Kyk na die mense wat hier staan. Dis almal ordentlike mense wat in hul lewe baie hard vir Transnet gewerk het. Die geld kom hulle toe. Ek dink dis tyd dat ons ook nou begin lawaai maak soos die staatsamptenare die laaste ruk,” het Erasmus gesê.
“Ons mense ly honger. Ons het nie geld nie. Transnet betaal ons nie genoeg nie,” het Josias Sethosa (62) van Bela-Bela gesê. Hy het 27 jaar vir Transnet gewerk.
Bettie van der Merwe (70), wat gehelp het om die byeenkoms te organiseer, het gesê hulle “sukkel nou al van 2003 af om die trustees van Transnet sover te kry om die 2% reël te skrap sodat ons ‘n ordentlike jaarlikse verhoging kan kry.”