"Die VF Plus verwelkom die openbare beskermer (OB) se besluit om die Gautengse departement van onderwys se besteding van R431 miljoen aan die ontsmetting van skole, te ondersoek," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-nasionale voorsitter en LPW in Gauteng.
"Die VF Plus het aan die einde van Januarie vanjaar ‘n klag hieroor teen die departement van onderwys by die OB ingedien.
"Die departement van onderwys het die reuse bedrag in drie maande, vanaf Junie tot Augustus 2020, aan die ontsmetting van skole bestee.
"Die party het reeds in November verlede jaar sy kommer uitgespreek nadat dit aan die lig gekom het dat die departement slegs in September 2020 R98 miljoen hieraan bestee het."
"Die bedrag van R98 miljoen is uitbetaal aan 28 verskillende diensverskaffers waarvan talle lyk of dit rakmaatskappy-name het en dus waarskynlik onlangs gestig is.
"Talle van die maatskappye wat tenders gewen het, se name bevat die woorde "Trading" of "Consulting" wat aanduidend is van die standaardname wat in rakmaatskappye voorkom. Talle maatskappye se name kom vreemd voor vir hierdie soort diens.
"Volgens die minister van onderwys, Angie Motshekga, is diepreiniging by skole nie noodsaaklik nie en hoef slegs oppervlaktes behoorlik skoongemaak word. Bidvest het ook die skoonmaakproses by baie skole geborg en sekere skole het uit hul eie sak daarvoor betaal.
"Die VF Plus het in ‘n skrywe aan die OB daarop aangedring dat vasgestel moet word of diepreiniging by skole werklik plaasgevind het, of dit nodig was en of die werk onreëlmatig was."
"Die OB moet ook vasstel of die maatskappye aan wie die tenders toegeken is, in staat was om die dienste te lewer, wie in beheer van die maatskappy is, wanneer die maatskappy gestig is en of dit nie 'n selfverryking-strategie was nie.
"Die OB moet ook bepaal of die geld op bedrieglike wyse bestee is en indien wel, hoe die geld teruggekry gaan word.
"Gegewe die geskiedenis van die ANC in Gauteng rakende Covid-19-tenders, sal die VF Plus die proses noukeurig monitor om alle moontlike ongerymdhede in die ondersoek uit te wys," sê Alberts.