Die nuutverkose burgemeester van die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit (Brandfort, Soutpan, Theunissen, Verkeerdevlei, Winburg), Steven Koalane, se eerste doelwit behoort te wees om te verseker dat basiese dienste in die munisipaliteit gelewer word voordat hy kan voortgaan met sy planne om werkskepping uit te brei.
Koalane is Woensdag tydens ‘n spesiale raadsvergadering tot nuwe burgemeester verkies.
Die VF Plus neem kennis van Koalane se planne om op die jeug in die munisipaliteit te fokus en projekte aan te pak om die plaaslike ekonomie en werkskepping te stimuleer.
"Sy beloftes van jeugopleiding, groter belegging in klein- en medium-maatskappye sal egter leeg wees indien Koalane nie daadwerklike aandag aan basiese dienste soos water, infrastruktuur en elektrisiteit gee nie," sê Koos Pienaar, VF Plus-raadslid in Masilonyana.
"Enige plan om groei te bewerkstellig sal misluk indien ‘n munisipaliteit nie behoorlik funksioneer en dié dienste lewer nie.
"Die burgemeester se eerste doelwit behoort te wees om ‘n finansiële regrukplan vir die sukkelende munisipaliteit te implementeer en te fokus op die aanstelling van plaaslike diensverskaffers, aangesien Masilonyana onder die administrasie van die Vrystaatse regering tans gebruik maak van uitgekontrakteerde verskaffers van buite die munisipaliteit.
"Inwoners van Theunissen, Brandfort en Winburg verdien beter dienste en die VF Plus sal die nuwe burgemeester verantwoordbaar hou in sy plig om Masilonyana, waar diensleweringsprobleme jare lank reeds voorkom, reg te ruk," sê Pienaar.