"’n Verdere 95 000 mense van regoor Suid-Afrika het hul stemme gevoeg by dié van die VF Plus in die party se jongste “Slaan Terug”-veldtog teen onteiening sonder vergoeding," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"In ‘n vorige, soortgelyke veldtog, het meer as 100 000 mense hul stem by die VF Plus gevoeg om beswaar aan te teken teen onteiening sonder vergoeding.
"Die VF Plus het ‘n spesiale webblad geskep waarop die publiek kommentaar kon lewer op die ANC-regering se voorneme om Artikel 25 van die Grondwet te verander om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.
Die adres van die blad is: https://www.slaanterugsa.org.za/se-nee-vir-onteiening-en-beskerm-jou-privaatreg/?fbclid=IwAR29H8md5BB2anz8005Us7WT-FUqfslWiynnj3LhDJb4k7vr0HoPpMoqHT0.
Van die besware wat die VF Plus ontvang het, sluit in:
“Eiendomsreg is heilig en die fondament van demokrasie en die vryemark. Eiendom beteken net iets as dit waarde het. Onteiening sonder vergoeding ondergrawe hierdie kernbegrip. Ek is onomwonde teen die verandering van Artikel 25 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika”;
“Ek is nie gekant teen grondhervorming nie, maar wel een grondhervorming sonder vergoeding”, en;
“Dit is onmenslik om ons grond te vat sonder vergoeding. Ek is ‘n pensioenaris en het gewerk vir my grond en dit wat ek besit. Sonder vergoeding vir die grond het ons nie ander heenkome nie. Ek het my lewe lank gewerk om op my oudag die vrugte daarvan te pluk”.
"Alhoewel die proses van openbare deelname eers môre sluit, het die VF Plus het vandag die 95 000 beswaarskrifte oorhandig aan die parlement se ad hoc-komitee wat met die taak belas is om moontlike wysigings aan Artikel 25 te ondersoek en aanbevelings daaroor te maak.
"Enige verandering aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal skadelik wees vir die ekonomie van Suid-Afrika en alle Suid-Afrikaners sal sodoende hul reg op eiendom verloor.
"Privaat eiendomsreg is ‘n internasionaal erkende basiese mensereg en dit moet deur die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm word in ooreenstemming met die Verengde Nasies (VN) se Handves en Internasionale Deklarasie van Menseregte.
"Die VF Plus is van mening dat die proses van grondhervorming in die wiele gery word deur korrupsie en administratiewe onbevoegdheid, en nie deur die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper nie," sê Groenewald.