fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

n Vrye Wes-Kaap kan ‘n model in Suid-Afrika word

Op sosiale media gons dit tans oor die afstigting van die Wes-Kaap. Daar is versoeke vir ’n referendum, terwyl ander groter outonomie vra.

CapeXit (www.capexit.org) is een van die organisasies wat hulle hiervoor beywer. As jy by CapeXit aansluit, word jy gevra om jou ten gunste van hul onafhanklikheidsdoelwitte uit te spreek en dat jy in ’n referendum sal “ja” stem.

Meer as 385 000 mense in die WesKaap het reeds op albei hierdie vrae “ja” geantwoord.

Enigeen wat nie hiervan kennis neem nie, weet nie wat tans op voetsoolvlak in die Kaap aangaan nie.

Dit is ’n direkte uitvloeisel van die Covid-19-pandemie en die irrasionele en dikwels belaglike voorskrifte van die ANC-regering.

Voeg daarby die ANC se korrupsie en onbevoegdheid en dan is dit baie duidelik hoekom afstigting ’n al hoe aantrekliker opsie vir baie Wes-Kapenaars word. Daardeur sê hulle: (1) Die ANC het alle morele reg verloor om oor ons te regeer; en (2) Ons wil ook nie langer deur die ANC regeer word nie.

Jan-Jan Joubert kom vandeesweek in sy rubriek in Die Burger (04.08) tot die gevolgtrekking dat Kaapse afstigting onhaalbaar en onmoontlik is. Dr. Robert Goddard, die vader van die Amerikaanse ruimteprogram, het ná die sukses daarvan gesê: “Elke droom (ook die maanlanding) word in die begin as ’n grap afgemaak, tot die eerste persoon dit regkry.” Brittanje het met Brexit “afstigting” van die EU verkies ten spyte van sommiges wat dit as ondenkbaar, onhaalbaar en onmoontlik beskou het. Skotland het reeds grootliks geslaag om meer magte van Brittanje te kry en mik nou na onafhanklikheid.

Destyds by Kodesa het die VF en die IVP vir meer magte vir provinsies gevra. Dit is ongelukkig deur die ANC, NP en DA afgeskiet. Maar nou is dit terug op die agenda in die Wes-Kaap.

Maklik en vinnig sal dit nie wees nie. Art. 235 van die Grondwet, wat met selfbeskikking handel, skep wel ’n grondwetlike pad wat gevolg kan en moet word. Joubert se bekommernis oor ’n eensydige onafhanklikheidsverklaring (UDI), soos deur Ian Smith in Rhodesië in 1965, is sowat 45 jaar agter die nuutste verwikkelinge in die volkereg.

Neem gerus kennis van die Internasionale Geregshof se uitspraak op 22 Julie 2010 oor Kosovo se eensydige onafhanklikheidsverklaring.

Weens kortsigtige onderhandelinge in 1994 het die Wes-Kaap tans baie beperkte provinsiale magte. Tog gaan dit in die Wes-Kaap op meeste terreine baie beter as in ander provinsies.

Dit ten spyte van die sentralistiese en voorskriftelike ANC-beleide wat in Luthuli-huis uitgedink en vanaf Pretoria op ons afgedwing word. Dink net vir ’n oomblik hoe ’n vrye Wes-Kaap daarsonder verder uitgebou kan word as ’n model in Suid-Afrika en Afrika, met ekonomiese groei en vooruitgang waarmee armoede uitgewis kan word.

Waar daar gelyke geleenthede vir almal is wat op meriete en nie op regstellende aksie gebaseer is nie. Waar dit veilig is en waar misdaad hanteer word. Waar daar nog beter onderwys met bekwame onderwysers is en waar Afrikaans as taal sy regmatige plek as die meerderheidstaal van die Wes-Kaap sal inneem.

Wes-Kaapse afstigting onhaalbaar en onmoontlik? Moet dit nie vir een oomblik glo nie. Ons bly in Afrika en hier is enigiets moontlik.

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.