"Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) dat ‘n geregtelike ondersoek (GO) gedoen gaan word na die Life Esidimeni-tragedie in Gauteng waarin 144 mense drie jaar gelede oorlede is," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.
"’n Regter van die hooggeregshof in Pretoria gaan die ondersoek lei. Dit volg nadat niemand met die aanvanklike ondersoek na die tragedie vervolg is nie.
"Die VF Plus het twee weke gelede tydens ‘n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, die komiteevoorsitter versoek om die kollig opnuut te laat skyn op die voorval en om dit terug te plaas op die agenda van die komitee."
"Die doel van die versoek was in die eerste plek om te verhinder dat ‘n soortgelyke voorval weer plaasvind.
"Die VF Plus het ook sedert die voorval herhaaldelik gesê hy sal aanhou om aan te dring op geregtigheid sodat die persone wat vir die tragedie verantwoordelik was, verantwoording kan doen vir hul dade en die straf kry wat hulle toekom.
"Die VF Plus is bly dat geregtigheid nou gaan geskied," sê van Staden.