"Met die besluit deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) om die standbeeld van president MT Steyn van die Bloemfontein-kampus te verwyder, het die universiteit finaal gewys dat transformasie op die kampus misluk het," sê Tammy Wessels, VF Plus-Jeugleier
Wessels sê die verwydering van die standbeeld is simbolies dat wit en Afrikaanse studente nie by die UV welkom is nie.
"Die redes wat die UV aanvoer vir die verwydering van Steyn se standbeeld, soos die nalatenskap van kolonialisme, wys dat die UV nie net onkundig is oor die geskiedenis van Suid-Afrika nie, maar ook ‘n instansie is wat weereens swoeg onder politieke druk.
"Die universiteit sê nou vir Afrikaanse studente dat hulle effektiewelik nie meer welkom is by die UV nie"
"Steyn was as Vrystaatse president ‘n vegter teen Britse heerskappy en kolonialisme in Suid-Afrika. Dit is telkens in gesprekke oor Steyn op die kampus uitgewys, maar die UV het dit geïgnoreer.
"Die universiteit het nou sy geloofwaardigheid as ‘n tersiêre instelling opgegee ter wille van politieke korrektheid.
"Die VF Plus-jeug het van die begin af voorgestel dat die UV eerder ander leiers se standbeelde moet byvoeg tot die landskap, as om bestaande standbeelde weg te neem. Daarmee sou transformasie op die kampus op ‘n gesonde manier plaasvind en almal sou welkom voel.
"Steyn se verwydering is ‘n eenrigting transformasie, wat eintlik blatante diskriminasie is. Die universiteit sê nou vir Afrikaanse studente dat hulle effektiewelik nie meer welkom is by die UV nie.
"Suid-Afrika se probleme sal nie opgelos word deur net op die verlede te fokus nie. Die VF Plus veg vir ‘n beter toekoms en sal aanhou terugslaan teen diskriminasie teen minderhede in Suid-Afrika.
Die VF Plus wil bou aan die toekoms, nie afbreek nie.